08 November 2018 | Menings

Waar is die ouers en onderwysers?

JOHN FREDERICKS SKRYF:

Big Walk, Boeremark en Windhoek Jazz Festival. . .

Die afgelope naweek was propvol bedrywighede en baie daarvan was toegespits op fondinsamelings. Behalwe vir die genoemde drie funksies het ons buurtwag en ons kerk ook ’n fondsinsamelingaktiwiteite gehad.

Die pretloop was ’n fondsinsamelingspoging deur drie onderwysers van ’n bekende hoërskool in Windhoek gedryf. Die drie het hulself afgesloof om die projek ’n sukses te maak, maar hul was gepootjie in hul pogings deur hulle kollegas.

Onderwysers speel ’n sleutelrol in enige kind se lewe, en as sulks staan hulle sentraal in alles wat ’n skool aanbied of organiseer, selfs al beteken dit om net teenwoordig te wees. Die oorgrote meerderheid van die onderwysers van die betrokke skool het geskitter in hul afwesigheid by die funksie, en dan het sommige die vermetelheid gehad om hul afwesigheid te probeer regverdig met wat kan beskryf word as loutere twak.

Die traak-my-nie-agtige houding van beide onderwysers en ouers word verbeeld in die akademiese uitslae en die dissiplinêre probleme wat die spesifieke skool ondervind. Die ouers van die graad agt-leerlinge vir volgende jaar was ook genooi, en in hul afwesigheid het hulle ’n duidelike boodskap gestuur - dat hulle nie te vinde is om skoolaktiwiteite by te woon nie, nog minder om dit te ondersteun.

Die bywoning, of liewer die gebrek daaraan, kan net beskryf word as 'n gruwelike miskenning van plig en verantwoordelikhede.

Om salf aan my misnoeë en ergelikheid te smeer, kies ek toe koers na die Boeremark, wat ek nou die afgelope vyf jaar bywoon. Ek vind altyd iets daar vir my gefolterde siel, en ek het ’n bietjie soetigheid vir my siel nodig gehad.

By die goed georganiseerde en goed bygewoonde Boeremark is daar van alles te kope teen bekostigbare pryse. Die N$5 toegangsgeld met die talle stalletjies wat vis, vleis, polonies, plante, dekor ens. te kope het, is troos vir ’n verwelkte siel.

Ek draai toe my rigtingsnaald terug na die fondsinsamelingsfunksie wat deur die buurtwag georganiseer was. Met die intrapslag dink ek aan die leuse wat op die ou, groot halfsent geskryf is wat ek by my ouma geërf het. "Eendrag maak mag."

Ons woonbuurt het hul volle ondersteuning gegee, juis omdat elkeen besef dat net met samewerking kom sukses en samesyn. Iets wat die ouers en onderwysers van daardie skool sal moet leer en vinnig ook.

Ek keer toe terug na die skool se swak bygewoonde funksie, maar ongeag van die swak bywoning, het die paar kinders en die handvol onderwysers die geleentheid laat skikker met hul entoesiasme wat nie verflou het nie. Teen laatmiddag laat ek die groepie “diehards” agter en sit af na die Windhoek Jazz Festival.

Dit was ’n fees vir siel, liggaam en gees, waaraan ek graag 'n brief op sy eie sal afstaan.