12 September 2018 | Rubrieke

Vrye tyd? Watse vrye tyd?

Ek's baie seker daarvan ek's nie die enigste mens op hierdie dorp wat dink dís 'n moerse grap nie. Dis eintlik glad nie snaaks nie. Ek lag net, want as ek nie daaroor gaan lag nie, gaan ek huil.

Wanneer ander mense praat van TV-programme wat hulle volg, of Sondag-familie-etes, of naweke by die see, of hierdie wonderlike boek wat hulle lees, knik ek maar my kop asof ek weet waarvan hulle praat.

Oukei, ek klink soos 'n selfbejammerende brat.

Ek hét vrye tyd, maar dis oomblikke wat ek doelbewus skep.

Dis nie onmoontlik nie, maar jy moet nogal kreatief en bewustelik leef as jy by 'n dagblad werk waar tempo hewig die leuse is.

Elke minuut is 'n deadline. Almal hol rond, jaag stories, woorde, sinne, prentjies, punte, kommas en koffie. Dis mal. Dis wónderlik! Maar mal.

Oukei, so weeksdae word ek om 04:44 wakker.

Dan beantwoord ek WhatsApps en loer gou wat op Facebook aangaan. Dis doodstil. Die meeste mense slaap nog. Dít is my eerste vrye tyd vir die dag. 'n Volle 16 minute tot 05:00 wanneer ek die honde moet kosgee, die bal 50 keer vir Otto moet gooi, skottelgoed was, wasgoed was, wasgoed ophang, fone vir die dag charge, stort, aantrek, hare, tande, make up, Spruit ontbed (tyd vir ontbyt is daar nie) en aangetrek kry, Spruit se hare (probeer) doen, hondetjorts optel en die huis aan die kant maak.

Dán, as iemand met 'n bietjie van 'n checking disorder, die huis so gou moontlik probeer verlaat. Check of die vensters toe is, check of een vir Chocolate oop is, check of die plugs by die mure uitgeprop is (ek is in my vorige lewe in 'n brand dood), check of die stoof af is, die oond af is, die ketel water in het, die oond af is, die stoof af is, en weer die oond. En vir oulaas weer die stoof. Teen die múúr af.

Om 06:40 ry ons skool en werk toe.

Die rit skool toe is heerlike vrye tyd. Twintig minute daarvan. Tussen die skool en die kantoor is nóg vrye tyd. Ek gebruik die twee blokke se ry om my kop skoon te maak. Leeg. In absolute stilte. Of met 'n nommertjie wat dreig om die kar se vensters te breek – hang af in watter bui ek myself bevind.

Deur die dag is my vrye tyd my 30-sekonde besoeke aan die badkamer – 30 sekondes waarin mense nie met jou kán praat nie, waar jy in 'n hokkie agter 'n toe deur sit, 'n lafenis.

Saans kom ek soms 17:30 by die huis, en soms 19:30. Dit gee my 'n uur en 'n half om die honde kos te gee, kos te maak, te eet, 'n gehalte gesprek met Spruit te (probeer) voer en soveel whisky in my keel af te gooi as wat ek kan.

Die TV word nie eers aangeskakel nie, want 21:00 begin ons al weer regmaak om te gaan slaap.

Die Eloffs maak nie grappies oor slaap nie. Spruit is 'n emosionele boks chocolates as sy nie genoeg slaap nie – you never know what you're gonna get. . . en ek kan nie spel, skryf, herskryf of vertaal as ek nie genoeg slaap nie.

'n Goeie nagrus is ál wat keer dat ons nie kop verloor nie.

Elke tweede Sondag werk ek ook, maar Saterdae is die hoogtepunt van my week.

Ná ek die helfte van die dag aan huis skoonmaak, hondestappies en toonlere bestee het, is daar 'n halwe dag oor waartydens ek met Spruit kan probeer connect (want ek het net vier jaar oor voor sy haar vlerke sprei), of dalk 'n Huisgenoot ­skáámteloos kan lees, of dalk net 'n bietjie stil kan staan terwyl die wêreld aanhou spin. 'n Halwe dag.

Maar as jy jouself met geweld in daai halwe dag ingooi, is dit genoeg.

Ons leef in 'n era waar vrye tyd 'n mite is, maar die mens het die wonderlike vermoë om by sy omstandighede aan te pas.

Klein oomblikke van ontsnapping of plesier is dáár – al is dit 'n pakkie NikNaks, 'n kollega se makabere grappies, of om Spruit se asem uit te drukkie.

Wat het Victor Frankl nou weer gesê? As jy regtig nie jou omstandighede kan verander nie, kan jy altyd jouself verander.