08 March 2018 | Howe

Voormalige polisiehoë ‘onregverdig afgedank’

Hy ‘was nie welkom’

Catherine Sasman

Die voormalige koördineerder van ondersoeke in die Otjozondjupastreek, adj.komm. Godfried #Khariseb, het ‘n aansoek by die hoërhof ingedien om sy afdanking uit die Namibiese polisiemag uit te daag en sy heraanstelling te eis.

#Khariseb is afgedank nadat hy na bewering van 18 Januarie 2016 tot 3 Maart 2016 nie by die werk was nie.

Op 3 Maart het hy ’n afdankingsbrief van lt.genl. Sebastian Ndeitunga ontvang.

Hy voer aan hy het nie sy salaris of enige van sy opgehoopte voordele, insluitende sy pensioen, sedert die dag van sy ontslag ontvang nie.

#Khariseb ontken aantygings dat hy nie ná sy verlof in Januarie verstryk het, vir diens aangemeld het nie. Hy beweer Ndeitunga het tot nou toe nie met enige bewyse hiervan vorendag gekom nie.

Hy sê Ndeitunga wou hom nie in die pos hê nie en dat sy seniors hom vir redes wat onbekend aan hom is, “wou straf”.

#Khariseb, ‘n veteraanpolisiebeampte en voormalige afdelingshoof van die kommersiële misdaadondersoekeenheid by die Windhoek-polisie se hoofkantoor, is op 26 Julie 2014 na die Otjozondjupastreek oorgeplaas.

In sy hofaansoek voer #Khariseb aan dat hy op 12 Januarie 2015 by kommissaris Joseph Anghuwo by die Otjiwarongo-polisie se hoofkantoor aangemeld het.

Hy sê hy was net afwesig wanneer hy toestemming van Ndeitunga ontvang het.

#Khariseb beweer voorts hy het van die eerste dag af wat hy sy voete in die kantoor gesit het, onwelkom gevoel.

Hy sê hy is nooit aan enige van sy mede- polisiebeamptes voorgestel nie, en dat ‘n kantoor, kantoortoerusting en meubels nooit aan hom beskikbaar gestel is nie. Hy sê hy is ook nooit aan polisiebeamptes wat aan hom moes rapporteer of die administratiewe of politieke leierskap in die streek voorgestel nie.

#Khariseb sê ook hy het nooit agtergrondinligting oor enige belangrike fokusondersoeke in die streek ontvang of ‘n oorhandiging van verantwoordelikhede gehad soos ‘n beampte van sy rang sou verwag nie.

Ondanks dit alles, voer hy aan, het hy elke dag vir diens aangemeld.

Kommissaris Anghuwo het aan die einde van 2015 afgetree en is deur kommissaris Armas Shivute vervang.

#Khariseb sê komm. Shivute het belowe om aan Ndeitunga te skryf en te vra dat hy tussenbeide tree in die saak. Die situasie het egter onveranderd gebly.

Hy sê Shivute het amptelike vergaderings met senior streeksbeamptes by sy huis gehou toe hy (Shivute) aanvanklik as polisiestreekshoof oorgeneem het.

#Khariseb het op 25 April 2015 by die minister van veiligheid en sekuriteit, genl.maj. (afgetree) Charles Namoloh geappelleer, maar dit is in Desember 2016 van die hand gewys sonder dat enige redes verskaf is.

Hy sê minstens agt ander beamptes kan getuig dat hy wel aan diens was gedurende die tyd wat hy na bewering afwesig was. Hy sê egter die ander beamptes is te bang om beëdigde verklarings in dié verband af te lê omdat hulle vrees dat dit tot hul nadeel sal strek.

Ndeitunga sê in sy antwoordende beëdigde verklaring daar is geen bewyse dat #Khariseb sy amptelike pligte uitgevoer het en dat hy ook nie met regstappe binne die vereiste tydperk van 12 maande ná sy ontslag begin het nie.

Ndeitunga ontken ook die bewering dat #Khariseb nie deur die personeel van die Otjiwarongo-polisie se hoofkantoor verwelkom is nie. Hy sê hy is deur twee beamptes, afgetrede adj.komm. Deon Marais en adj.komm. Katrina Andreas, verwelkom.

Ndeitunga sê voorts #Khariseb het geweier om die kantoor wat hom aangebied is, te betrek en dat hy geweier het om sy amptelike pligte uit te voer, wat hy moes doen - of hy aan hoës in die streek voorgestel was of nie.

Hy sê #Khariseb moes dit ook op homself geneem het om met sy personeel te kommunikeer en dat daar nie ‘n oordrag van verantwoordelikhede kon wees nie, omdat die pos waarheen hy verplaas is, vakant was.

Ndeitunga sê die feit dat #Khariseb “in die omgewing” van die polisie- hoofkantoor was, beteken nie hy het sy pligte uitgevoer nie.

Hy sê voorts #Khariseb moes ‘n lys van die take wat op hom gewag het, opstel en dit met sy seniors opneem.

Die polisiehoof het bygevoeg #Khariseb het nooit sy voordele geëis nie, soos wat vereis word wanneer iemand afgedank word.

‘n Verhoordatum is nog nie bepaal nie.