30 July 2018 | Gesondheid

Vol kateters, muise wat hol

'Met watter gemoedsrus los jy 'n familielid hier?'

“Elke keer as jy jou medisyne gaan kry, kry jy óf wat ookal beskikbaar is óf niks." - Pasiënt

Henriette Lamprecht - Vol katetersakke wat in gange staan, muise wat in kamers rondhol en medikasie vir geestessiektes wat ná maande steeds nie in voorraad is nie.

Só lees van die inskrywings op 'n openbare forum wat geskep is vir insette oor die stand van openbare gesondheidsorg in die land.

Die Facebook-blad “Namibia Public Health Care Association” is deur me. Rebecca Kamanda geskep ná haar ma se traumatiese ervaring in die Katutura-staatshospitaal waar sy in erge pyn vir ure in haar eie braaksel op X-strale gewag het.

Volgens een van die inskrywings op die blad is ’n familielid op 11 Julie van die staatshospitaal op Swakopmund na die Katutura-hospitaal oorgeplaas. Eers ’n week later, op 18 Julie, is hy vir sy eerste skandering gestuur. Dít ten spyte van die feit dat hy terminaal siek is en in voortdurende pyn verkeer. Volgens die inskrywing moet hy, ten spyte van sy verswakte toestand en sonder die hulp van ’n rolstoel en ’n noodknoppie, die badkamer op sy eie aandurf.

Volgens die inskrywing het dít reeds daartoe gelei dat hy sleg geval het.

Volgens nog ’n inskrywing is ’n familielid met breinbeserings vir twee weke in die intensiewesorgeenheid van die Sentrale Hospitaal behandel.

“Die eenheid, dokters en verpleegpersoneel is uitstekend. Dit is vlekkeloos, skoon, stil en professioneel.” Die deuntjie het egter verander toe die familielid na die Katutura-hospitaal oorgeplaas is.

“Vol katetersakke staan rond, wat nie uitgegooi is nie, en dit stink. Personeel staan en lag ons uit omdat ons geskok is. Hoe kan ’n mens gemoedsrus hê om jou geliefde daar te los?”

Nog een vertel van ’n familielid wat hier gesterf het en etlike ure later is steeds nie na sy liggaam omgesien nie. ’n Ander deel sy ervaring van muise wat in die gange en kamers rondhardloop.

“Nou is dit ’n kwessie van of ek my werk doen of nie, of ek ’n katetersak uitgooi of in die gang sit, ’n pasiënt los tot hy of sy bedsere het en ’n afgestorwene los dat sy hartseer familie self die oë moet kom toedruk, my salaris word elk geval aan die einde van die maand oorbetaal. Die meeste personeel is ook óf stom óf arrogant.”

’n Werknemer van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste maan solank as wat daar geen gevolge en verantwoordbaarheid is nie, gaan niks verander nie.

’n Tekort aan medisyne by openbare gesondheidsinstellings sluit ook dié vir geestesgesondheid in. Volgens ’n inskrywing ervaar die departement vir geestesgesondheidsorg etlike maande reeds ’n tekort aan medisyne.

“Elke keer wat jy jou medisyne gaan optel, kry jy óf wat ook al beskikbaar is, óf niks nie. Dit is baie gevaarlik omdat elke individu medikasie het wat vir hom geskik is en vir hom werk. Nie alle antipsigotiese middels gaan vir my of die volgende persoon werk nie.”

Die ongereelde inname van doserings is volgens die inskrywing ook “uiters gevaarlik”, omdat nuwe medikasie óf geen verandering kan bring nie óf die simptome vererger en selfs erge newe-effekte kan hê.

Dié inkonsekwentheid kan ook volgens die skrywer daartoe lei dat baie mense hul behandeling laat vaar, omdat “net wanneer jy by die medisyne aanpas, dit weer verander word”.

“Ek het opgehou om soontoe te gaan, maar gelukkig het ek my span private dokters.”

Die Facebook-blad is volgens Kamanda as ’n hulpmiddel vir ingrypings by die openbare gesondheidsektor begin.

Sy poog om met die hulp van die blad bewustheid onder die regering en regeringsamptenare te skep oor die omvang en ingewikkeldheid van openbare gesondheidsorg.

Dit sluit in die impak wat dit het op die arm massas wat aan dié sorg uitgelewer is.