17 December 2016 | Gemeenskap

Voedselbank in Kunene broodnodig

Die spesiale adviseur van die goewerneur van die Kunenestreek, mnr. Katuutire Kaura, sê Namibië se voedselbank moet in dié streek tot stand gebring word. Dit sal daartoe lei dat die duisende lede van die gemeenskap wat sukkel om hulself te voed, ook daarby kan baat.

Kaura het in 'n onderhoud met Nampa gesê die projek wat in Windhoek begin is, moes eerder uit die droogtegeteisterde Kunenestreek bestuur word waar weiding die afgelope sewe jaar feitlik nie bestaan nie.

Volgens Kaura sukkel mense in dié streek om hulself te voed en gaan hulle dikwels met 'n leë maag slaap. Volgens hom leef 70% van die Kunenestreek se inwoners onder die minimum bestaansvlak.

“Ons het mense wat oorleef deur dierevelle te eet net om iets in hul maag te hê. Die ooglopende hongersnood is volgens my die rede waarom die voedselbank eerder hier van stapel gestuur moes word.”

Mnr. Mwahopatji Mbepela, 'n inwoner van Opuwo, het aan Nampa gesê oorlewing is 'n opdraande stryd nadat hy en 'n familielid, mnr. Mwabona Katiti, al hulle vee tydens die droogte verloor het. Hulle het daarna op soek na beter geleenthede na Opuwo verhuis. Me. Angelika Muharukua, goewerneur van die Kunenestreek, het aan Nampa gesê alhoewel die proses aan die gang is, geen vordering met die skep van geriewe vir die beoogde voedselbank in die Kunenestreek tot op hede gemaak is nie.

Die skakelbeampte van die ministerie van ­armoede-uitwissing en maat­skaplike welsyn, mnr. Lot Ndamanomhata, sê die eerste voedselbank vir dié projek sal aan die einde van 'n proeffase beoordeel word om te bepaal of die projek na ander streke uitgebrei kan word. “Geen tydraamwerk is vasgestel nie.”

Die voedselbank is 'n bergplek vir geskenkte en gekoopte kos en ander nie-bederfbare produkte. Die doel is dat elke ­voedselbank lede van die gemeenskap as agente werf om potensiële ­begunstigdes te identifiseer.

Die voedselbank sal aanvanklik geldelike steun by die private en openbare sektor van Namibië moet kry om die volhoubaarheid van die onderskeie armoedeverligting- en voedselbystandsinisiatiewe van plaaslike welsynsorganisasies en die uitbreiding van dienste aan meer kwesbare mense te verbeter. - Nampa