09 August 2018 | Ministeries

Vlugtelingopname binnekort by Osire

Die ministerie van binnelandse sake en immigrasie, in samewerking met die Verenigde Nasies (VN) se hoë kommissaris vir vlugtelinge (UNHCR,) sal van 28 Augustus af met die registrasie en bevestiging van asielsoekers in Namibië begin.

Dié opname sal tot 5 September by die Osire-vlugtelingkamp voortduur.

Volgens amb. Patrick Nandago, permanente sekretaris van binnelandse sake en immigrasie, is die doel van die opname om ‘n nuwe stelsel te implementeer.

Die bevolking- en identiteitsbestuur-ekostelsel (Primes) sal vlugtelinge se biometriese inligting insamel.

Volgens Nandago sal dié proses die regering ook in staat stel om die nodige bystand aan vlugtelinge te verskaf, wat die uitreiking van rantsoenkaartjies insluit.

“Daar is geen finansiële implikasies nie, afgesien van vervoerkoste vir dié wat buite Osire bly,” sê hy.

Alle vlugtelinge in Namibië moet binne die spertyd by Osire se verspreidingsentrum aanmeld.

Vir verdere inligting, kontak mnr. Likius Valombola, me. Josephone Nghimtina, mnr. Sakeus Mbango of me. Milka Tjiveta by (061) 292-2022, 081 124 4721, 081 165 4407 of 081 142 2137.