18 April 2019 | Afrika

Vleis ís goedkoper, wys inflasie-syfers

’n Mandjie vleisprodukte het jou in Maart vanjaar ’n hele 1,1% minder gekos as ’n jaar gelede.

Dis die tweede maand in ’n ry dat vleispryse sowel op ’n maand- as ’n jaargrondslag daal.

Jy sou dié volle daling uiteraard slegs beleef indien jou mandjie ooreenstem met die mandjie wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) meet, wat swaarder gelaai is met hoender as met byvoorbeeld biefstuk. Hoender is die vleissoort waarvan Suid-Afrikaners verreweg die meeste eet.

Die syfers kom uit SSA se inflasiesyfers vir Maart, wat toon inflasie het opgeskiet tot 4,5%, die hoogste sedert Desember. Dis die tweede maand in ’n ry dat inflasie styg nadat dit in Januarie die onderste draaipunt van 4% gehaal het.

BRANDSTOFPRYSE

Die styging in die inflasiekoers kan toegeskryf word aan die skerp styging in brandstofpryse in Maart, asook die styging in die pryse van alkohol en sigarette en in die koste van behuising.

Kerninflasie, wat brandstof, kos en kragtariewe uitsluit, het teruggesak tot 4,4% (van 4,6% in Februarie).

Provinsiale inflasie wissel van 3,8% in Noordwes tot 5,5% in die Wes-Kaap. Slegs die Wes-Kaap en Vrystaat (4,6%) beleef inflasie van meer as die landwye gemiddelde.

Kospryse as geheel was in Maart gemiddeld 2,3% duurder as ’n jaar gelede, onveranderd sedert Februarie. As koeldrank, tee en koffie ingesluit word, was kospryse wel 3,1% hoër. Dis weens ’n skerp styging, van 13%, in koeldrankpryse die afgelope jaar.