12 June 2018 | Visserye

Visvangregte is kwessie van brood en botter

Augetto Graig – Dit is nie die einde van die wêreld as mense nie visvangregte ontvang nie.

Dit was gister die boodskap aan inwoners van die Khomasstreek deur me. Anna Erastus, nasionale koördineerder vir die ministerie van visserye en mariene hulpbronne se aansoekproses.

Erastus het gesê ander geleenthede bestaan vir Namibiërs wat aan die plaaslike bedryf wil deelneem.

Die ministerie van visserye en mariene hulpbronne se landwye inligtingsvergaderings oor nuwe reëls vir aansoeke om visvangregte het gister in Windhoek afgeskop. Dit is die eerste keer in 20 jaar dat ou kwotaregte verval.

Nuwe vereistes vir aansoeke sluit in dat mense wat tans oor regte beskik, nie vir nuwe regte aansoek kan doen nie. Nog ‘n omstrede vereiste is dat net geregistreerde maatskappye aansoek mag doen.

Belangstelling was so groot dat die saal by die Khomas-streeksraad nie almal kon huisves nie.

Erastus het erken dit sal moeilik wees om nuwe maatskappye voor die sperdatum te registreer. “In die toekoms sal ons daaraan werk,” het sy gesê. “Ja, daar is ook kostes verbonde, maar dit is maar een van baie kriteria. Tans hoop ons die kapasiteit (om aansoek te doen) sal verseker dat daar wyer deelname is,” was Erastus se reaksie.

“Hierdie is ‘n brood-en-botterkwessie,” het die spesiale raadgewer van die Khomas-goewerneur, me. Rosalia Mwashekele-Sibiya, gesê. Volgens haar wys die samewerking tussen die ministerie en streekrade landwyd dat die toekenning van visvangregte ‘n gesamentlike regeringspoging is om alle Namibiërs die kans te gun om aansoek te doen.

Die goeie opkoms is volgens Erastus ‘n bewys dat Namibiers ernstig en gretig is om deel te neem aan die land se visvangbedryf. Volgens haar het die ministerie nie so ‘n oorweldigende reaksie van die publiek verwag nie.

Mense moet volgens Erastus besef visvangregte is beperk om die hulpbron vir die toekoms te beskerm.

Dr. Stephen Mbithi het benadruk elke aansoek is beperk tot ‘n spesifieke visspesie, hoewel mense so veel aansoeke mag indien as hulle wil.

Die vergadering duur vandag voort.

Soortgelyke vergaderings vind vandag in die Omaheke-, Oshikoto-, Otjozondjupa- en Kavango-Wes-streke plaas. Môre kom Hardap, Oshana, Kunene en Kavango-Oos aan die beurt, Donderdag //Kharas en Ohangwena en Vrydag Omusati, Erongo en Zambezi.

Die sperdatum vir aansoeke is 31 Julie en sluit visvangregte vir stokvis, harder, marsbanker, monnikvis, diepseevis, lynvisspesies, kreef, diepsee-rooikrap en Kaapse pelsrob in.