14 May 2018 | Visserye

Visfabriek bring hoop

Vroue kry voorkeur

Mnr. Mike Nghipunya, uitvoerende hoof, Fischcor: “Ons vaar baie goed.”

Augetto Graig - Die nasionale visvangstaatsonderneming Fishcor bou tans, ná jare se verliese, 'n reuse- visfabriek van N$530 miljoen op Walvisbaai.

Dié fabriek sal tot 700 nuwe werksgeleenthede skep en tot 600 ton gevriesde verpakte maasbanker per dag oplewer.

Mnr. Mike Nghipunya, uitvoerende hoof van Fishcor, sê die fabriek sal na verwagting teen September vanjaar voltooi wees.

Volgens hom sal tot 70% van die nuwe werksgeleenthede aan vroue toegeken word, en sal die aanleg tot 70 000 metrieke ton kan lewer.

Die maatskappy sal ook na verwagting teen Junie nog twee nuuttoegeruste visvangskepe ontvang, wat die fabriek weekliks van vars vis sal voorsien.

Die fabriek sal ten volle aan die Verenigde Nasies (VN) se voedselveiligheidsvereistes voldoen, en die Europese Unie (EU) se goedkeuring wegdra, sê Nghipunya.

Die projek behels 'n vennootskap met Africa Selection Fishing Namibia, wat deel is van die AST-groep in Angola.

Aan die begin van 2017 het die vennootskap tussen Fishcor (40%) en die AST-groep (60%) gevolg en het dit as Seaflower Pelagic Processing bekend gestaan.

Dit was ná Fishcor N$160 miljoen daaraan bestee het om Etale Properties uit te koop.

Die nuwe perseel is met ’n deel van AST se bydrae van N$370 miljoen gesloop, die fabriek en administrasiegeboue is tans in aanbou en bevriesingstoerusting sal binnekort geïnstalleer word.

Volgens Nghipunya is die kaai op die perseel deel van die waarde wat Fishcor aan die spesifieke stuk grond geheg het.

Die afgelope paar jaar het Fishcor ook betekenisvolle beleggings op Lüderitz gemaak, waar sy Seaflower-kreef en -stokvismaatskappye is.

Ná die onlangse voltooiing van 'n nuwe ysfabriek op die dorp, wat 100 ton 'n dag lewer, het Fishcor sedert 2014 sowat N$370 miljoen daar bestee, sê hy.

“Ons vaar baie goed,” sê hy.

Nuwe leiding

Nghipunya was voorheen 'n ekonoom verbonde aan die ministerie van visserye en mariene hulpbronne voor hy in 2014 die leisels by Fishcor oorgeneem het.

Dít onder leiding van 'n nuwe raad met mnr. James Hatuikulipi as voorsitter.

Kort hierná is mnr. Inocenio Verde as operasionele hoofbestuurder aangestel en mnr. Paulus Ngalangi as hoof- finansiële bestuurder.

Dít het gevolg op Fishcor se jaarlikse verliese tussen 2009 en 2014. In 2011 het die onderneming soveel as N$18,6 miljoen verloor.

Nghipunya sê ’n hernude fokus op produksie, infrastruktuur en instandhouding van die vloot het voorkeur gekry.

’n Groot deurbraak was toe Fischcor se Bestaanswet no. 28 van 1991 weer gelees is.

Dié wet sit die beleid uiteen vir die gebruik van mariene hulpbronne, sê hy.

Daarna is met die ministerie ooreengekom dat Fishcor vir 15 jaar lank minstens 50 000 metrieke ton maasbanker mag vang.

Dié toekenning was beslis 'n hupstoot vir Fishcor, sê hy.

Dit het deel van die aandeelhouer se herkapitalisering gevorm, meen Nghipunya.

In 2015 is die eerste finansiële jaarboek in jare saamgestel voor die besluit in 2016 geneem is om die boekjaar aan te pas om met die vangseisoene saam te val.

Die 2017-jaarverslag toon aan die besigheidsinkomste het tot N$285 miljoen gegroei - van N$37 miljoen in 2014.

Verlede jaar het die staatsonderneming ’n wins van byna N$68 miljoen ná belasting gemaak, terwyl die onderneming in 2014 'n verlies van N$1,5 miljoen getoon het.

“Goeie bestuur is baie belangrik,” sê Nghipunya.

Volgens hom moes boekhoustelsels nog geïmplementeer word toe hy die onderneming se leierskap oorgeneem het, maar is hulle tans op datum.

Die nuutste jaarboek is reeds aan die lynministerie en die ministerie van staatsondernemings oorhandig, sê hy.

Toekomsplanne

Tans bestaan Fishcor uit Seaflower-kreef, wat onder die handelsmerk Namrock veral na Japan uitvoer, Seaflower-witvis, wat ook Seacope en die MVF Pembabaai bedryf, asook die nuwe Seaflower Pelagic Processing.

Altesaam verskaf dié ondernemings tans voltydse werksgeleenthede aan 651 werknemers, en hul totale bates het sedert 2014 met 219% gegroei tot ’n waarde van amper N$500 miljoen.

Reserwes behels tans sowat N$135 miljoen, 'n toename van 668%, sê Nghipunya.

Die groep beoog om verder uit te brei deur samewerking met ander spelers in die visbedryf sodat 'n groter verskeidenheid Namibiese mariene hulpbronne benut kan word, sê hy.

“Sien die fabriek as 'n nasionale aanleg, nie net ’n Fishcor-fabriek nie,” sê hy met verwysing na die jaarlikse kapasiteit van 20 000 ton wat Fishcor nie op sy eie kan vermag nie.