03 September 2018 | Rubrieke

Verval is ver val

Minette Brink – Ek weet niks meer nie.

Verward oor verval is ek wel. Wel inderdaad, nie wel in goeie toestand of luim nie.

Oor die krapperige vodde DVD-speler wat tandekners kliphard kirrr-kirrr deur Finding Nemo se gedempte agtergrond-geraas.

Oor ‘n hele groep learners-skrywers wat almal 5% kort vir ‘n slaag. Boek eers weer oor 14 dae; die system kan nie die reeds ingevoerde data stoor tot dan nie. Vul weer ‘n vorm in en betaal weer en sit weer mooi geduldig in die ry en doen weer die oogtoets en laat neem weer die foto. So jammer ons het weer ‘n halfuur laat die deure oopgemaak. Daar was weer ‘n dringende vergadering.

Koes vir die lelike hoes van die asem langs u oor u, want nie almal weet kieme is ook lugreisigers nie.

Koes vir die plafon wat op ses plekke inval; daar is nie geld nie. Ons kan nie alleen die stryd stry nie. Die private sektor moet help, help, aanhou help; die skatkis is gestroop.

Oor die vervalle fort waar op die eens spog-literiabaan veldskoolpunte gewen moes word.

Oor die non-stop obsessie met die besige omie van Amerika; die dodelike drukkoker-druk op skoolkinders, sportkinders, kinders; die N$69 vir ‘n spanspekkie kleiner as ‘n vuis; die hangbal-tot-betaaldag-sindroom; die knaend opdringerige karwagte; die bliksem wat bankrot enkelma’s se plastiek tuinstoele steel; die sonstrale met die wees-dankbaar-vir-wat-jy-het-preke; die papierdun mêtjies met die speldpuntgrootte swawelkoppies wat afbreek voor die aansteek; die verbysterende raad aan die depressiewe skisofreen: Eet gesond en kry oefening – dis als net in jou kop, ruk jouself reg; die oornag verdwyn van die laaste N$35 se beltyd; die eierdans om die supersensitiewes; die grootbek, bakarm brannasneus wat die kassier verskree en verneder; die gebiets en kompetisie oor pruilende prinsessies se matriekafskeidrokke; die monsters wat meisietjies vermorsel.

Kirrr, kirrr. I wiiish I cooould speak whale. Ja, Dory. Ek ook.

Twitter, Facebook, Instagram, Snapchat, Pinterest, Tumblr, Flickr, WhatsApp, Messenger, Gab, We Heart It, Hashtag, Vibe, Mastodon, Yik Yak, Upworthy, Imzi, Storify, Flapit, Advogato, Bebo, Busuu, Cloob, Commonground, CouchSurfing, Crunchyroll, Cucumbertown, Cyworld, DailyBooth, DailyStrength, DeviantArt, Disaboom, Dol2day, DontStayIn, Doximity, Dreamwidth, Elftown, Ello, Elixio, eToro, Fetlife, FilmAffinity, Filmow, FledgeWing, Flixster, Fotki, Fotolog, Foursquare, Friendica, Friends Reunited, Friendster, Fuelmyblog, Fyuse, Gaia Online, GamerDNA, Gentlemint, GirlsAskGuys, Gogoyoko, Goodreads, Goodwizz, Google+, GovLoop, Grindr, Habbo, Hi5, Hospitality Club, Hotlist, Hub Culture, Ibibo, Indaba Music, Influenster, IRC-Galleria, Italki, Itsmy, Jaiku, Jiepang, Kaixin001, Kiwibox, LaiBhaari, Last.fm, LibraryThing, Lifeknot, LinkedIn, LinkExpats, Listography, LiveJournal, Livemocha, MEETin, Meetup, Meettheboss, Minds, Mixi, MocoSpace, MOG, Mubi, Myspace, Netlog, Nexopia, Ning, Odnoklassniki, Open Diary, Orkut, OUTeverywhere, PatientsLikeMe, Partyflock, Pingsta, Plaxo, Plurk, Poolwo, Quechup, Quora, Qzone, Raptr, Ravelry, Renren, Rooster Teeth, Ryze, ScienceStage, ShareTheMusic, Shelfari, Sina Weibo, Skoob, Skyrock, SocialVibe, Sonico.com, SoundCloud, Spaces, Spot.IM, Stage 32, Stickam, Streetlife, StudiVZ, Students Circle Network, StumbleUpon, Tagged, Talkbiznow, Taringa!, The Sphere, Travellerspoint, Tsu, Tuenti, Tylted, Untappd, Uplike, VK, Vox . . .

Kirrr, kirrr. Ek wens iemand kon my hoor, Dory.