13 May 2019 | Ekonomie

Vervaardigers trotseer beurtkrag op soek na keerpunt

Drie grootste kategorieë tel kop op

William Horne– Suid-Afrika se vervaardigingsektor het in Maart kop bo water begin hou ten spyte van onder meer die uitwerking van fase 2 tot 4-beurtkrag en kwynende sakevertroue.

Produksie volgens volume het in Maart vergeleke met Februarie vir die eerste keer dié jaar op ’n maandgrondslag positiewe groei van 0,8% aangeteken, volgens syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Donderdag uitgereik het.

Dit is ook die hoogste maandelikse groeisyfer sedert Oktober 2018.

In Februarie was maandgroei -2% en in Januarie -2,6%.

In die drie maande tot einde Maart het die heersende afwaartse tendens wel nog nie heeltemal omgeswaai nie, met ’n daling van -2,4% teenoor die vorige kwartaal. Dit is dié syfer wat ’n rol gaan speel wanneer ekonomiese groei bepaal word.

Die land se drie grootste vervaardiging-kategorieë is besig om effens kop op te tel.

· Kosproduksie (verkope van R1,42 miljard tussen Januarie en Maart 2019)

· Yster- en staalproduksie (R1,33 miljard)

· Petroleum-, chemikalie-, rubber en plastiekproduksie (R1,23 miljard)

Kosproduksie het met 1% toegeneem, yster- en staalproduksie met 3,2% en petroleum- en chemikalieproduksie met 7%.

Gesamentlik het dié subsektors se verbetering 2,5 persentasiepunte se groei bygedra tot die jaargroei van 1,2% in vervaardigingsproduksie.

Aan die negatiewe kant het die produksie van petroleum- en chemiese produksie in die kwartaal met 3,8% gedaal, motorvervaardiging met 6% en hout en houtverwante produksie met 3,6%.

Absa se aankoopbestuurdersindeks (PMI) het in Maart op 45 punte gestaan. Dit bly egter onder die gesogte vlak van 50 punte, wat beteken die bedryf groei steeds nie. Die gemiddelde vir die hele eerste kwartaal staan op 47 punte.

Die PMI, wat deur die Buro vir Ekonomiese ondersoek van die Universiteit Stellenbosch saamgetel word, was laas in Desember bo 50 punte, ’n vlak wat sou dui op beter vooruitsigte vir groei. – Netwerk24