11 February 2019 | Howe

Versekeraarsaak: Regter het glo botsende belange

‘Verklaar uitspraak nietig’

Elvira Hattingh - Die ministerie van finansies en die nasionale herversekeraar NamibRe wil hê die registrateur van die hooggeregshof moet ‘n onlangse beslissing, waarin hul aansoek om verlof tot appèl afgekeur is, nietig verklaar.

Dít omdat waarnemende appèlregter Theo Frank glo persoonlike belange in die saak het.

Minister Calle Schlettwein het Donderdag ‘n nuusverklaring uitgereik waarin hy sê ‘n hofaansoek is ingedien om te vra Frank se beslissing van 29 Januarie moet nietig verklaar word.

Schlettwein voer aan Frank moes nie die saak behartig het nie, omdat dit neerkom op botsende belange.

Frank het glo voorheen as regsverteenwoordiger vir die respondente opgetree en is boonop glo die voorsitter van NedNamibia Holdings Limited.

Dít is die beheerliggaam van NedNamibia Life Assurance Company Limited (NedLife) – een van die klaers in die saak waarin die versekeraarbedryf die wet grondwetlik uitdaag.

Schlettwein sê NedLife word ook deur die onlangse hoërhofbevel geraak.

“As voorsitter en direkteur het hy reeds ‘n aasienlike vergoeding oor baie jare ontvang,” voer die applikante in hul jongste hofaansoek aan.

“Derdens het waarnemende appèlregter Frank ook as direkteur van Trustco, ‘n respondent in die petisie, opgetree,” skryf die aansoeker.

In ‘n nuusverklaring voer Schlettwein aan hierdie botsende belange is nie aan die betrokke partye onthul nie.

Hy sê verder hy het versoek dat die hooggeregshof die saak dringend in ‘n ope hof moet aanhoor en dat minstens drie regters teenwoordig moet wees.

Hy versoek dat Frank se beslissing in só ’n hofsitting nietig verklaar word en dat hul aansoek om verlof tot appèl toegestaan moet word.

AGTERGROND

Die jongste gebeure in die hooggeregshof volg nadat die hoërhofregter Thomas Masuku in November gesê het die staat en NamibRe mag nié teen die hoërhof se beslissing in September 2018 in die guns van plaaslike versekeringsmaatskappye appelleer nie.

Masuku het op 20 September tydens ‘n dingende aansoek beslis plaaslike versekeringsmaatskappye sal nie gedwing word om herversekering by NamibRe uit te neem nie. Dít tot die hof oor die wettigheid van dié wetsbepaling in ‘n ander hangende saak kan beslis.

Deur die aanvanklike hofsaak wou die staat versekeraars verplig om ‘n persentasie van hul besigheid aan NamibRe te sedeer, glo om te verhoed dat meer as ‘n N$1 miljard Namibië jaarliks in die vorm van herversekering verlaat.

Desondanks het die ministerie van finansies en NamibRe in Desember ‘n petisie by die hooggeregshof ingedien vir die bespoediging van ’n appèlverhoor, wat toe op 29 Januarie deur appèlregter Frank van die hand gewys is.

Die betrokke versekeringsmaatskappye sluit in Hollard, Sanlam, Santam, Trustco, OutSurance en Old Mutual.