05 September 2018 | Howe

Vermeende verkragter van stiefdogter bly in aanhouding

Die 31-jarige man wat glo sy stiefdogter (13) verkrag het, het Dinsdag sy tweede verskyning in die landdroshof op Rehoboth gemaak.

Landdros Desire Kamboua het die verkragtignsaak tot 25 September uitgestel vir die beskuldigde (sy naam word weerhou om die meisie se identeit te beskerm) om regshulp te bekom.

Die beskuldigde is weer borgtog geweier weens die ernstige aard van die saak en dat dit nie in openbare belang is nie. Die polisieondersoek is ook in ‘n vroeë stadium. Hy is ingelig van sy reg om formeel vir borgtog aansoek te doen.

Die beskuldigde bly in aanhouding in die Rehoboth-polisiekantoor se aanhoudingselle.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die voorval Vrydag omstreeks 21:30 in Blok E plaasgevind toe die ma van die meisie nie by die huis was nie.

Dit word beweer dat die beskuldigde sy stiefdogter verkrag en gedreig het om haar te verwurg en dood te maak.

Hy het glo aan die slaap geraak en die slagoffer kon daarin slaag om na haar tannie te vlug wat die saak aan die polisie rapporteer het.

Aanklaer Zibiho Hillia Munzenze het vir die staat verskyn. – Nampa en eie berig