07 September 2018 | Kuns en vermaak

Vat 'n vet kans

Vet Kans is kykNET se nuwe werklikheidsprogram wat elke Donderdag van 4 Oktober af om 18:00 uitgesaai sal word om ses deelnemers se reis na gewigsverlies te volg.

Elke deelnemer het besluit om sy of haar lewe drasties te verander, met gewigsverlies van tussen 20 kg en 40 kg as uiteindelike doelwit.

Deelnemers volg die MediLean dieetprogram vir 16 weke, en die deelnemer wat die meeste vet as persentasie van sy/haar totale liggaamsmassa verloor, stap met ‘n eilandvakansie vir twee weg.

“Kykers kan emosie, humor en ware lewensverhale verwag,” vertel Rian van Heerden, vervaardiger van Vet Kans. “Die deelnemers verander nie net hul lewenstyl nie, maar ook hul lewensuitkyk met behulp van twee lewensafrigters en die MediLean-dokters.”

Maar wat maak Vet Kans anders as ander verslankingsprogramme? Die aanbieder van die program, Karin van der Laag, gaan vir die volle 16 weke die dieetprogram saam met die deelnemers volg!

Karin is veral bekend vir haar rol as Maggie Webster in die SABC3-sepie Isidingo – ‘n rol wat sy vir 12 jaar vertolk het.

“Soos menige vrou het ek al verskeie diëte in my lewe gevolg – ek het al ‘n paar kilogram verloor, maar dan weer dubbel soveel opgetel.”