10 September 2018 | Rubrieke

Van sosiale vlinder na reismier na huismuis

Die reisgoggas wriemel altyd binne my en as die wiele draai, dan vra ek wanneer ry ons? Gatskuurder, noem my ma my.

Ek is die een met die ellelange kluitklaplys van plekke wat ek nog wil sien en opwindende dinge wat ek nog in my lewe wil doen. Die lewe is te kort vir my emmerskoplys.

Ek het al so 30 lande deurgedraf. Nie nie regtig deurgedraf nie. Ek haat draf. Ek het al in 'n paar oseane en riviere geswem en die mooiste tropiese visse gesien as ek snorkel, maar ek het nog nie saam met dolfyne geswem nie.

Ek het al deur verskeie woude gestrompel en gorillas, oerang-oetangs gesien en agter Komododrake aangehardloop, maar ek het nog nie 'n ysbeer of 'n bison gesien nie. Ek het al 'n vrylopende swartrenoster in sy natuurlike habitat in die Kunenestreek gesien om net 'n dag daarna in trane die gru-toneel van 'n gestroopte renosterkarkas te aanskou.

Ek was al op eksotiese eilande en strande met wuiwende palmbome met 'n skemerkelkie in die hand, terwyl ek asemrowende sonsondergange aanskou.

Ek het al die pigmeë van die Kongo en 'n voormalige kopjagterstam in Taiwan ontmoet, maar ek het nog nie in 'n rooi rok in Buenos Aires getango nie.

Ek het al aardbewings en tifone ervaar, maar was vies toe ek 'n vuurspuwende berg op Lombok met een dag mis.

Op lughawens het ek al tuine met vlinders en orgideë besoek, baie verdwaal, bagasie verloor, vlugte verpas en my hartseerste afskeid-koebaais met krokodiltrane in my oë gesê.

Ek het al vele volksvreemde disse geëet, maar ek kon dit nie oor my hart kry om 'n kloppende hart van 'n kobra in 'n gatskopdrankie in Taipei se nagmark af te sluk nie.

Toe verander my lewe toe ek Kameeldoringboomspruit toe trek. Dit was ná ek vir twee jaar en twee maande in 'n kompleks gebly het en die buurman bo my my elke liewe nag wakker gesnork het.

Ek was goed gatvol vir die geraas van die lewe in 'n kompleks. Toe ek die huis by Kameeldoringspruit ontdek, het ek die volgende dag die huurkontrak geteken. Tot hiertoe en nie verder nie, ek is klaar met skreeuende kinders, huilende honde, blêrende musiek, skellende dronk mans en my snorkende buurman.

Kameeldoringspruit se huisie is in 'n doodloopstraat langs 'n spruit met doringbome geleë en daar is 'n groot stoep met 'n mooi uitsig. Daar is vir my geen lekkerder kuierplek as 'n stoep nie. Daar is 'n voëldammetjie en die voëls - van vinke tot neushoringvoëls en Suidwes-parakiete kwetter in die akasias. 'n Dassie kom kuier en 'n ystervark bly in die spruit.

My ma is gelukkig, my honde en katte is gelukkig, want hulle het weer ruimte en 'n uitsig. Ek kan weer slaap.

Ewe skielik wriemel my reisgoggas minder en ek is nou minder gepla oor lysies wat ek moet aftiek. Mense wil ek lankal glad nie meer sien nie en die sosiale vlinder in my dood. Miskien voel ek net moeg, moedeloos en blou.

Al wat ek nou wil doen, is om by Kameeldoringspruit op my bank, gedrapeer met my ouma se hekelkombers op my stoep met 'n boek te sit.

Niks jaag my meer nie (behalwe die koerantspertye) en ek voel of ek tot ruste gekom het.

Kameeldoringspruit het skielik 'n reismier in 'n huismuis verander.