18 July 2018 | Mense

Usakos neem ook afskeid

Staatsbegrafnis Saterdag vir Gurirab

Denver Kisting



'n Polisiehelikopter neem vandag die liggaam van die oudspeaker, mnr. Theo-Ben Gurirab, na sy geboortedorp.

Mnr. Mbeuta Ua-Ndjarakana, die permanente sekretaris (PS) van inligting en kommunikasietegnologie, het gister aan Republikein gesê 'n waakdiens word vandag op Usakos vir Gurirab gehou.

Die liggaam keer dan terug Windhoek toe vir 'n gedenkdiens aan huis van die Gurirab-gesin môreaand.

Vrydag sal die amptelike roudiens in die parlementstuine plaasvind waarna die liggaam hier tot Saterdagoggend in staatsie sal lê, het ­Ua-Ndjarakana voorts gesê.

Op besluit van president Hage Geingob sal Gurirab, 'n voormalige eerste minister en Namibië se eerste minister van buitelandse sake, ­Saterdag tydens 'n staatsbegrafnis by Heldeakker ter ruste gelê word.

Intussen het die huidige speaker van die Nasionale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, die ­afgelope week in 'n verklaring gesê: “Hy (Gurirab) was 'n ikoon van demokrasie en diplomasie, vaardig in onderhandelinge met ondersteuners én teenstanders, welbekend en gerespekteer oraloor die wêreld en in die Verenigde Nasies(VN)-familie.”

Gurirab het tussen 1999 en 2000 as president van die VN se ­algemene vergadering gedien.

Katjavivi het voorts gesê die NV sal Gurirab onthou as 'n denker, 'n ­toegewyde demokraat, 'n ­vryheidsvegter en 'n uitstaande ­diplomaat.



nasionale held

“Ons sal hom ook onthou as 'n regverdige en onpartydige ­voorsittende beampte en 'n nasionale held, wie se pogings daartoe gelei het dat Namibië op die wêreldkaart geplaas is in die moeilike tydperk van ons bevrydingstryd.”

As 'n lid van die grondwetgewende vergadering het Gurirab ook beduidend bygedra tot die skryf van die Grondwet en die wette van 'n onafhanklike Namibië, het Katjavivi gesê.

Gurirab, wat in 2015 uit die politiek getree het, is Saterdag in 'n Windhoekse hospitaal oorlede.

In 'n berig op bl. 3 in gister se uitgawe oor die heengaan van Gurirab is na wyle me. Stienie Mudge as mnr. Dirk Mudge se weduwee verwys.

Sy was mnr. Mudge se vrou en nié sy weduwee nie, omdat hy steeds leef. Republikein vra hiermee om verskoning vir enige ongerief wat dié oorsig teweeg gebring het.