14 June 2019 | Sport

Uis se ‘Fly In’ een vir die rekordboeke

Die onlangse 2019 Fly In kompetisie, wat jaarliks op ’n klein aanloopbaan by Uis aangebied word, het ’n rekordgetal deelnemers gelok terwyl die grootste formasievlug in die land se aangetekende geskiedenis ook ’n groot hoogtepunt was.

Gemeet aan beide hierdie maatstawwe word die byeenkoms dus as ’n groot sukses bestempel.

Die Fly In is gereël deur LISAMA (Light Sport and Amateur-built Aircraft Association of Namibia) en is daarop gemik om ’n platform te bied vir vlieëniers van verskillende klein lugvaartuie om hul vaardighede ten toon te stel.

By die onlangse kompetisie was ’n totaal van 56 vliegtuie, helikopters en girokopters op die vliegveld by Uis geparkeer. Die getal deelnemers was dertig.

“Daar was ’n hele klomp toeskouers ook – meer as in vorige jare”, sê Heidi Snyman van LISAMA. “Ons is baie tevrede met hoe die dag afgeloop het.”

Die uitvoering van verskillende vaardigheids- en navigasietoetse het deel van die kompetisie gevorm, asook oefeninge om hul landings op sekere plekke uit te voer.

Die algehele wenners van vanjaar se kompetisie was Matthias en Nadia Braune. Flippie Opperman (senior) was tweede, gevolg deur Matthias Röttcher.

Ná afloop van die kompetisie het verskeie vlieëniers die skare vermaak met akrobatiese verbyvlugte. Die mees merkwaardige een was ’n formasievlug met altesame ses vliegtuie, wat die grootste formasie gevorm het wat nóg in Namibiese geskiedenis opgeteken is.