10 September 2018 | Howe

Twee Chinese skuldig aan omkopery

Francoise Steynberg - Twee senior Chinese bestuurders van 'n konstruksiemaatskappy het Vrydag in die Windhoekse landdroshof skuldig op 'n klag van omkopery gepleit.

Xu Siyong (Erick) (55) en Yang Huaifen (54) is op borgtog van N$30 000 elk vrygelaat en hul saak is tot Woensdag vir vonnisoplegging uitgestel.

"Die direktoraat van ondersoeke van die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het die twee Chinese verlede Woensdag tydens 'n klopjag by die ou kragstasie in hegtenis geneem nadat hulle 'n speurder van die Namibiese polisie met N$4 000 probeer omkoop het," sê die ACC se hoof van ondersoeke, mnr. Nelius Becker, in 'n verklaring.

Volgens Becker is 'n speurder van die eenheid van teengeldwassery en bekamping van finansiersing van terrorisme van die Namibiese polisie probeer omkoop om 'n ondersoek te laat vaar waarin Yang geïmpliseer word.

Yang is glo die bedryfsbestuurder en Xu die projekbestuurder van die New Era-konstruksiemaatskappy wat besig is om die Namibeise polisiehoofkwartiere in die hoofstad te bou.

"Albei het by monde van hul prokureurs op die oortreding van die teenkorrupsiewet skuldig gepleit," lui die ACC se verklaring.