08 November 2018 | Internasionaal

Trump 'teleurgesteld, maar nie verbaas'

President se administrasie in soeklig

Pres. Donald Trump en sy span by die Withuis was, met hamburgers en worsbroodjies in die hand, voorbereid op die gemengde uitslag van die middeltermynverkiesing, berig Reuters.

Hulle was op die partytjie, waartydens hulle die uitslae op televisie dopgehou het soos dit ingekom het, glo reg vir slegte nuus.

Dit was wyd voorspel dat die Demokrate beheer oor die huis van verteenwoordigers sou kry, en dat die Republikeine sou vasklou aan die senaat. Dit was ook toe so.

Dit is teleurstellend, maar nie verbasend nie,” het Kellyanne Conway, Trump se senior adviseur gesê.

Hoewel die Demokrate beheer teruggeneem het van die huis van verteenwoordigers - hulle het 'n minimum van 23 setels nodig gehad - het die Republikeine beter as verwag gevaar in die senaat. Die Demokrate het twee setels nodig gehad om beheer oor die senaat te kry, maar die Republikeine het vier setels gewen.

Die Demokrate se oorwinning in die huis van verteenwoordigers gaan die opposisie die geleentheid gee om in die pad te staan van Trump se agenda en die president se administrasie sal behoorlik in die soeklig geplaas kan word.

Kandidate van die Demokrate het minstens 20 Republikeine uitgestof vir setels in die huis van verteenwoordigers, berig The Washington Post. Die Republikeine behou egter beheer van die senaat en het heel moontlik nou 'n groter meerderheid.

VROUE-INBOORLING

Deb Haaland het in Nieu-Mexiko gewen om die eerste vroue-inboorling te word om in die kongers te dien.

Alexandria Ocasio-Cortez (29) van New York word die jongste vrou om in die kongres te dien.

Die millenniër het die Amerikaanse Demokratiese Party in Junie tot in sy fondamente geskud deur die sittende kongreslid vir New York by die stembus in sy tuisdistrik te verslaan.

Ocasio-Cortez is die helfte van haar teenstander, die politieke veteraan Joe Crowley, se ouderdom.

Sy het in Dinsdag se kongresverkiesing teen Anthony Pappas, Republikeinse kandidaat, te staan gekom.

Sy kom uit ’n Puerto Ricaanse familie. Die stemdistrik in New York het baie inwoners uit minderheidsgroepe en sluit woonbuurte soos Queens en die Bronx in. – Netwerk24/Reuters