29 August 2018 | Afrika

Theresa May kom in SA aan

‘Betrekkinge tussen dié twee lande is sterk’

Theresa May, premier van Brittanje, het gister omstreeks 07:00 in Suid-Afrika aangekom.

Die vliegtuig van die Britse Royal Airforce met May aan boord het in reënerige Kaapstad geland.

Sy het met 'n blou sambreel van die vliegtuig se trappe na 'n motor gestap.

May het gister ’n werkbesoek aan Suid-Afrika gebring en is geskeduleer om met pres. Cyril Ramaphosa by Tuynhuys te vergader.

Dit is die eerste keer sedert 2011 dat ’n dienende Britse premier Suid-Afrika besoek. Ramaphosa het May in April in Londen besoek.

Sy sal ook met die presidente van Kenia en Nigerië tydens haar besoek van drie dae vergader.

David Cameron was in 2013 die laaste premier wat Suid-Afrika besoek het, toe hy oudpres. Nelson Mandela se begrafnis bygewoon het.

‘UNIEKE GELEENTHEID’

Die BBC berig die besoek aan Afrika is deel van May se pogings om handelsbetrekkinge ná Brexit te versterk.

Sy het die reis as ’n “unieke geleentheid in ’n unieke stadium vir Brittanje” beskryf.

’n Afvaardiging van 29 mense sal May vergesel.

Luidens ’n verklaring deur die presidensie volg die ontmoeting op vergaderings wat Ramaphosa en May in April en Junie in Londen en Kanada gehad het.

Die leiers het potensiële vennootskappe tussen Brittanje en Suid-Afrika bespreek om beleggingsmoontlikhede te versterk.

“Betrekkinge tussen Suid-Afrika en Brittanje is sterk,” lui die verklaring.

May sal ook ’n klok van die SS Mendi, wat in 1917 gesink het, aan Ramaphosa oorhandig.

Meer as 600 Suid-Afrikaners is dood toe hulle aan boord was om Britse troepe tydens die Eerste Wêreldoorlog by te staan.

Die klok is in 2017 in die Engelse Kanaal gevind. – Netwerk24