08 March 2018 | Internasionaal

'Te vroeg vir optimisme oor Noord-Korea'

Geskiedkundige oomblik in Pjongjang

Suid-Korea se pres. Moon Jae-in het gister gesê dit is “te vroeg om optimisties te wees” oor Noord-Korea se aanbod om met Amerika oor kernontwapening in gesprek te tree.

"Ons is slegs by die wegspringstreep,” het Moon aan leiers van politieke partye gesê nadat sy gesante Kim Jong-oen se aanbod ná afloop van 'n ­geskiedkundige besoek aan Pjongjang oorgedra het.

Hy het beweringe van 'n ooreenkoms agter die skerms met Pjongjang in ruil vir 'n byeenkoms om die onderhandelings­tafel ontken.

“Daar was hoegenaamd geen agteraf ooreenkoms met die Noorde nie,” het Moon gesê.

“Daar sal glad nie iets soos 'n geskenk vir die Noorde wees nie,” het hy by­gevoeg.

Die Suid-Koreaanse leier het die ­belangrikheid van die behoud van noue samewerking met Amerika, die waarborger van die land se veiligheid, ­benadruk.

“Ek dink gesprekke oor kernont­wapenings sal eers lewensvatbaar wees wanneer Suid-Korea en Amerika ­gemeenskaplike posisies oor die ­aan­geleentheid inneem,” het hy gesê.

Sanksies en druk op Noord-Korea moet ook nie verlig word bloot as gevolg van die inter-Koreaanse dialoog wat plaasgevind het nie,” het Moon gesê.

“Inter-Koreaanse gesprekke sal nie genoeg wees om vrede te bewerkstellig nie.” – Nampa/AFP