12 September 2018 | Vervoer

Taxivakbond gaan hof toe

Ou wet en streng wetstoepassing teengestaan

“Ons doen ’n beroep op alle taxidrywers om ons in hierdie poging te steun, omdat dit oor hul behoeftes gaan, asook oor die verbetering van vergoeding en werksomstandighede in die bedryf.” – Werner Januarie, sekretaris-generaal, Namibië Vervoer- en Taxivakbond (NTTU)

Yochanaan Coetzee – Die Namibië Vervoer- en Taxivakbond (NTTU) het gister tydens ’n nuuskonferensie hul planne om die regering voor die hof te daag, asook hul amptelike nuwe lys van vervoertariewe bekend gestel.

Mnr. Werner Januarie, die vakbond se sekretaris-generaal, het ná gister se nuuskonferensie lig op dié verwikkelinge gewerp.

“Ons hoofdoel is om die geldigheid van die Padvervoerwet nr. 74 van 1977 teen te staan, omdat ons voel dit is nie tans toepaslik nie,” het Januarie gesê.

“Onder meer erken hierdie wet nie private ondernemers nie,” het hy gesê.

Die vakbond sal ook van die geleentheid gebruik maak om een van hul lede met opgehoopte verkeersboetes se saak teen te staan, en om die weg te baan vir beter werksomstandighede en meer buigsame wetstoepassing vir ondernemers in die openbare vervoerbedryf.

Tarieflys ‘voorkom misverstande’

Die koste van die beplande hofaansoek sal gedek word deur die opbrengs van die nuwe, amptelike NTTU-tarieflys.

Taxidrywers wat die pryslys teen N$75 aankoop, sal terselfdertyd as amptelike lede van die vakbond geregistreer word, en sal dus voorkeur kry wanneer hulle die vakbond se ondersteuning nodig het.

“Ons doen ’n beroep op alle taxidrywers om ons in hierdie poging te ondersteun omdat dit oor hul behoeftes gaan, asook oor die verbetering van vergoeding en werksomstandighede in die bedryf,” het Januarie gesê.

“Diegene wat nié ’n tarieflys aanskaf en registreer nie, sal afsonderlik hanteer word, voor die vakbond bystand aan hulle sal verleen,” het hy gesê.

Januarie het gesê die vrystelling van ’n amptelike tarieflys sal vervoerkoste duideliker aan die publiek oordra, misverstande tussen passasiers en drywers voorkom en bykomende koste uiteensit.

Die NTTU sal eerskomende Sondag by Eveline Court in die Greenwell Matongo-area van Katutura vergader om dié kwessies met belanghebbendes te bespreek.