03 September 2018 | Omgewing

Swaco neem nóg 'n renosterkalf aan

Die Swaco-maatskappyegroep het nóg 'n swartrenosterkalfie aangeneem. Volgens die Red die Renosterfonds (SRT) borg die Swaco-groep 'n renosterkoei en haar kalf se beskerming en monitering vir 'n jaar ter waarde van N$42 300, asook uniforms van N$18 240 vir die spoorsnyspan. Swaco, wat al vir jare die swartrenosters van Namibië ondersteun, het die kalfie Themba gedoop, wat gepas “vertroue” beteken. Verlede jaar het Swaco die swartrenosterbulletjie Nawalta aangeneem. Me. Maxi Louis, voorsitter van die SRT, het Swaco bedank en Namibiërs uitgedaag om ­Namibië se swartrenosterbevolking te help beskerm. Louis sê renosters kan deur individue, 'n familie, 'n groep vriende, 'n skool of 'n besigheid aangeneem word. Foto verskaf