05 September 2018 | Rubrieke

Strydkinders se uitgerekte stryd

Dit gaan net aan en aan en aan . . .

Ek dink nie baie mense weet dat die sogenaamde strydkinders Maandag ‘n optog in Windhoek se strate gehou het nie.

Waarheen hulle op pad na was, kon ek nie heeltemal uitpluis nie, maar hulle is so half tussen die Swapo-hoofkantoor oorkant die Katutura-staatshospitaal en die Simon de Wit-brug op pad na Windhoek se middestad deur die polisie gestop en moes terugdraai.

Ek het so in die verbyry een van die betogers gevra waaroor die optog gaan. Die antwoord, heel voorspelbaar teen dié tyd, was “for jobs”.

Hulle met met ‘n reuse- Swapo-vlag deur die strate teruggestap en hul entoesiastiese ge-struggle-singery was teen die middagson maar flouerig. Op ‘n paar se rûe was klein babatjies wat met sopnatgeswete koppies teen die skerp sonlig agtertoe gehang het.

As dít nie genoeg van ‘n noodkreet is nie, weet ek nie.

Wat vir my nogal opvallend was, was dat dié wat nog in Windhoek se strate onder die vaandel van die strydkinders rondmaal al jonger en jonger lyk. Seker maar die strydkinders se kinders se kinders, meen ‘n kollega bitterbekkig.

Want die strydkinders, wie hulle ook al mag wees en hoe oud hulle ook al is, het nou al deel geword van die land se gesamentlike bewustheid.

En vir een of ander rede blyk dit ons het gesamentlik ingestem dat niemand eintlik weet hoe om dié situasie aan te spreek nie.

Ek is een van die joernaliste wat die kwessie van die strydkinders rondom 2008 gedek het toe hulle vir die eerste keer voor die ou treinstasiegebou in Windhoek, waar die destydse veteraneministerie geleë was, begin uitkamp het.

Toe reeds was baie van hulle eintlik ook maar nog baie jonk en, laat ons maar eerlik wees, seker glad nie in ballingskap vóór onafhanklikwording gebore nie.

Hoe dit ook al sy, wat van die eerste groep strydkinders geword het, weet ek nie, maar daardie bekende gesigte is nie meer op die strate nie.

Húlle stryd het hulle moontlik ‘n joppie in die regering of elders besorg, wie weet? Moontlik word die kwessie tóg iewers aangespreek.

En moontlik is dít hoekom ál jonger werklose en skynbaar hawelose jongmense die vaandel van die voormalige strydkinders opgeneem het.



Die groepie wat Maandag betoog het, sluit ook ‘n groep jong meisies in wat met karton- en plastiekhouertjies by verkeersligte dag ná dag vir aalmoese bedel – dikwels met hul babatjies op hul heupe.

Dis ‘n tragiese situasie en skynbaar sonder einde in sig.

Ná Maandag se optog het ek deur vorige berigte geblaai en een ná die ander opsomming klink somber en onhoudbaar.

“Strydkinders albatros om Swapo-verkiesingsaspirasies”, “spook by Swapo”, “eis werk”, “moet huis toe gaan”, “gearresteer”, “geskiet”, “vermoor”, “in hof”, “saai chaos”.

Hier en daar was daar ook ‘n sprankie hoop: “is gewerf”, “gehelp”, “word opgelei”.

En tog vermoed ek ons gaan nóg ‘n dekade van strydkinders op ons paaie sien. Lank lewe die stryd van die kinders van die vryheidstryd, en hul kinders, en húl kinders, long live!