08 March 2018 | Sport

Stormers se Moerat maak sy buiging

Stephen Nell



In dieselfde week dat hy sy 20ste verjaardag gevier het, gaan die Stormers se groentjie-slot, Salmaan Moerat, straks môre sy buiging vir die Stormers in hul Superrugby-wedstryd teen die Highlanders in Dunedin maak.

Moerat is op die Kapenaars se plaasvervangerbank, met Chris van Zyl en Jan de Klerk as die slotte in die beginspan in die plekke van onderskeidelik Pieter-Steph du Toit en JD Schickerling.

Laasgenoemde is terug huis toe met 'n ernstige skouerbesering, terwyl die Stormers nog hoop hulle kan vir Du Toit van die plaasvervangerbank af inspan. Hy het in verlede naweek se wedstryd teen die Crusaders 'n hou teen die kop gekry.

Indien daar voordat die wedstryd afskop nog kommer oor hom is, sal hy deur die losskakel George Whitehead in die groep vervang word. Agterlangs keer Damian Willemse terug op losskakel, wat beteken dat Dillyn Leyds vleuel toe skuif in die plek van Seabelo Senatla, wat 'n liesbesering opgedoen het.

Voorlangs beteken Cobus Wiese se skouerbesering dat Kobus van Dyk as steelkantflank sal opdraf. Steven Kitshoff keer ook terug in die beginspan as loskopstut, met JC Janse van Rensburg wat plaasvervangerbank toe skuif.

Die Stormers-span is: SP Marais, Dillyn Leyds, EW Viljoen, Damian de Allende, Raymond Rhule, Damian Willemse, Dewaldt Duvenage, Nizaam Carr, Kobus van Dyk, Siya Kolisi (k), Chris van Zyl, Jan de Klerk, Wilco Louw, Ramone Samuels, Steven Kitshoff. Plaasvervangers: Dean Muir, JC Janse van Rensburg, Carlu Sadie, Salmaan Moerat, ­Pieter-Steph du Toit/George Whitehead, ­Sikhumbuzo Notshe, Justin Phillips, JJ Engelbrecht. – Netwerk24