12 September 2018 | Sakenuus

Steelfoto’s wys glo goedkoper iPhone Xc

Petrus Malherbe – Apple stel Woensdag sy jongste reeks iPhones bekend.

En te midde van intense bespiegelinge in iPhone-kringe oor wat ’n mens kan verwag, het daar nou nuwe steelfoto’s op sosiale media opgeduik wat glo die nuwe iPhone Xc wys.

Dit is glo die meer bekostigbare kleinboet van die bestaande iPhone X, wat ’n jaar gelede die lig gesien het.

Na wat berig word is die Xc goedkoper as die X omdat die meer bekostigbare LCD-tegnologie eerder as die X se OLED-tegnologie vir die skerm gebruik word.

Die grootste verrassing wat die steelfoto’s verklap, is die kleure waarin Apple die Xc beskikbaar gaan stel. Die drie modelle op die steelfoto’s is onderskeidelik ’n donkerrooi, byna maroen, spierwit en vlootblou.

Mashable sê dit is interessant dat Apple die nuwe foon die Xc noem, eerder as die iPhone 9, soos daar verwag is.

Apple het ’n paar jaar gelede die iPhone 5c uitgereik, ook ’n goedkoper weergawe van sy vlagskip-naamgenoot.

iPhone Xc (6.1” LCD) clones/dummy models in new colors. pic.twitter.com/RybRhE7XSO

— Ben Geskin (@VenyaGeskin1) September 6, 2018

Buiten vir die Xc gaan Apple Woensdag na verwagting nog twee slimfone bekend stel. Een is ’n kloon van die iPhone X, maar met ’n beter verwerker (wat glo die Xs genoem sal word), en die ander is ’n iPhone X met ’n nog groter skerm (die Xs Max)

Apple stel ook sy jongste slimhorlosie, die Watch Series 4, op Woensdag se geleentheid in die Steve Jobs-teater in Cupertino, Kalifornië, bekend.

Die nuusblad 9to5Mac het ook steelfoto’s van dié horlosie wat wys die Series 4 gaan beduidend dunner wees as sy voorgangers. Die horlosie se skerm is ook groter en maak nou gebruik van die jongste OLED-tegnologie.

Die maatskappy sal ook na verwagting die nuutste weergawe van sy bedryfstelsels vir slimfone, slimhorlosies en Mac-rekenaars Woensdag aankondig.

’n Nuwe platform waarop jy jou slimfoon, slimhorlosie en oorfone koordloos kan herlaai, word ook verwag. Dit gaan glo die AirPower genoem word. – Netwerk24