13 September 2018 | Misdaad

Spioenbaas se dood ondersoek

Stilte hang oor voorval

Denver Kisting – Volgens die polisie word die dood van die spioenbaas mnr. Paulus Tshilunga steeds as ’n selfdood hanteer.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat Tshilunga vandeesweek sy eie lewe geneem het.

Tshilunga se prokureur, mnr. Jorge Neves, het gistermiddag by navraag gesê hy is nie by magte om enige kommentaar te lewer nie.

Wat hy wel gesê het, is dat hy teen gister nog geen terugvoering oor die nadoodse ondersoek ontvang het nie.

Neves het verlede maand die spioenbaas tydens ’n in camera-sitting in die Windhoek-landdroshof verteenwoordig.

Die 56-jarige man sou volgende maand in die hoërhof verskyn weens dié beweerde korrupsie en bedrog ten bedrae van nagenoeg N$17 miljoen.

The Namibian het gister berig lt.genl. Sebastian Ndeitunga, inspekteur-generaal van die Namibiese polisie, sê hulle sal ’n ondersoek gelas om te verseker daar was geen vuilspel betrokke nie.

Ndeitunga, wat tans in die buiteland is, kon nie gister bereik word nie.

Shikwambi het eergister gesê Tshilunga se liggaam is omstreeks 07:00 daardie dag, sowat 2 km van die Daan Viljoen-padblokkade af, ontdek.

Sy het gesê die vermoede bestaan dat Tshilunga homself geskiet het.

’n Polisiebeampte wat in die omgewing woon, het Tshilunga se lewelose liggaam glo in sy spogmotor ontdek.

Geen selfdoodbrief is op die toneel gevind nie, het Shikwambi gesê.

Die vuurwapen het glo aan Tshilunga behoort.

’n Familielid, met wie Republikein gistermiddag gepraat het, het gesê begrafnisreëlings is nog nie afgehandel nie.