07 September 2018 | Kuns en vermaak

Song Night vier lente en verandering

Die gewilde platform vir jong, opkomende Namibiese sangers om hul sangtalent ten toon te stel, het onlangs ’n vieringskonsert in Windhoek aangebied.

Die konsert het by Imagine Games plaasgevind.

“Dit was ter viering van ons laaste konsert in die Imagine Games-gebou. Ons gaan in die toekoms ons shows by ’n ander venue hou. Dit was wonderlik om die einde van die winter en die begin van die lente te vier. Daar is so baie sangers met so baie talent in Namibië. Dit was eenvoudig ‘n aand van vieringe,” het Lize Ehlers gesê.

Sedert die ontstaan van Song Night in 2011 het die konsep nog net gegroei. Iets wat aanvanklik net ’n gedagte in Lize se agterkop was, het ontwikkel tot ‘n platform wat ons land se nuwe talent blootstel.

Lize sê dit maak haar baie gelukkig om te dink haar breinkind is nou iets tasbaar en suksesvol.

Song Night se hoofdoel is om onbekende sangtalent in Namibië te nooi om hulself bekend te stel – ongeag hul ervaring. Almal se stemme word gehoor.

“Dis uiters moeilik om as jong kunstenaar blootstelling te kry. Ek onthou hoe ek in die begin gesukkel het. Ek wou ander individue help om die pad makliker te maak. Song Night het al van ons land se top- sangtalent opgelewer.

“Dis vir my so lekker om hierdie talent te help vorm en uitendelik vir ander mense ‘n loopbaan te kan help bou. Die idee is gegrond op mentorskap en die sangers ontvang gratis opleiding.”

Ná verskeie oudisies, oefensessies en organisering het die vieringskonsert nuwe hoogtes bereik.

As deel hiervan het plaaslike kunstenaars regstreeks opgetree.

Die meerderheid sangers wat aan die vieringskonsert deelgeneem het, het nog nooit saam met ’n band opgetree nie, wat ’n uitdaging is.

Die vieringskonsert het weer eens vars stemme die wêreld ingestuur. Van die sangers wat opgetree het, het geen musiekagtergrond nie.

Die laaste Song Night vir vanjaar sal op 31 Oktober by die Warehouse-teater plaasvind.

Oudisies vir dié konsert sal op 10 Oktober plaasvind.

Die venue vir oudisies is nog nie bekend nie, maar sal op Song Night se sosiale media bekend gemaak word.

Oudisies sal in a cappella-styl gedoen word – dit wil sê sonder enige musiek.

Kaartjies vir die konsert op 31 Oktober sal by die deur teen N$80 beskikbaar wees. Die show begin om 19:00.