05 September 2018 | Internasionaal

So lyk museum ná groot brand

Die gemoedere in Brasilië het Maandag hoog geloop nadat 'n massiewe brand die 200 jaar oue Nasionale Museum in Rio de Janeiro in puin gelê het.

Die museum is Sondag deur die brand verwoes skaars 'n maand voordat opknappingswerk aan die sprinkelbesproeiingstelsel sou begin. Reuters berig dat dié geliefde gedenkwaardigheid jare verwaarloos is weens gebrekkige finansiering en dat dit ten tyde van die brand nie oor 'n geskikte sprinkelbesproeiingstelsel beskik het nie. Die polisie se eenheid vir openbare orde moes traanrook afvuur nadat 'n klein groepie woedende mense toegang tot die museum, wat voorheen 'n paleis was, probeer verkry het.

Hulle het egter later toegang verkry en die gebou omsingel.

Die oorsaak van die brand wat in alle waarskynlikheid meer as 20 miljoen voorwerpe, insluitend argeologiese ontdekkings en ­geskiedkundige voorwerpe, ­vernietig het, is nog nie bekend nie, berig CNN.



BEPLANDE OPKNAPPINGSWERK

Roberto Leher, dekaan van die Federale Universiteit van Rio de Janeiro, sê opknappingswerk aan die sprinkelbesproeiingstelsel sou in Oktober begin het nadat dit reeds in Junie goedgekeur is.

Roberto Robadey, 'n woordvoerder van die brandweer, sê slegs twee brandkrane het genoegsame druk gehad en brandweermanne moes water uit 'n dam kry om die brand te probeer blus.

“Dit is 'n groot verlies en Brasilië is in rou gedompel,” het Sérgio Sá Leitão, minister van kultuur, aan CNN gesê. – Netwerk24