11 July 2018 | Onderwys

Skole op hul knieë

Skrale subsidie van N$33 per leerling

Henriette Lamprecht – “Ons lê op die grond.”

Dít was die noodkreet gister by verskeie skole wat sedert die begin van die jaar steeds nie die subsidie van ’n karige N$33 per kind van die ministerie van onderwys, kuns en kultuur ontvang het nie.

Dié subsidie, wat eers N$66 per leerling was, is veronderstel om elke termyn aan skole uitbetaal te word.

Met die einde van die tweede termyn wat reeds in sig is, het verskeie skole gesê dit het ernstige gevolge vir onderrig én die daaglikse bestuur van hul skole.

Die grootste impak blyk by skole te wees waar ouers nie finansieel daartoe in staat is om enige vrywillige bydraes te lewer of geldinsamelings te ondersteun nie.

“Ons vra ouers om te help, maar hulle wil nie of hulle kan nie,” het ’n bron by so ’n skool gesê.

Volgens haar is dit juis dié bydraes wat moet help met die aankoop van alles van ink vir fotostaatmasjiene tot skryfbehoeftes en papier.

“Ons hande is afgekap. Ons moet kopieë van vraestelle vir die eksamen maak wat nou gaan begin en ons kan dit nie doen nie.”

Sommige leerlinge het ook nog nie handboeke of skryfboeke nie.

“Ons wil die boeke netjies en oorgetrek hê, maar die helfte van die skool kan nie bekostig om dit oor te trek nie.”

Volgens die bron beweeg dinge nou van sleg na slegste.

“Dit vat baie ink ensovoorts om eksamenvraestelle uit te druk. Die ink kos sowat N$4 000 en net vir die vraestelle alleen is dit ’n uitgawe van N$10 000 tot N$12 000. Dan moet handboeke nog uitgedruk word vir leerlinge wat nie handboeke het nie.”



Nog ’n skool sê hulle het nog geen subsidie vir die jaar ontvang nie, hoewel hulle tydens ’n ontmoeting tussen die minister en skoolhoofde oor die huidige situasie ingelig is.

“Die rede was dat die finansiële omstandighede nie so goed is nie,” het ’n bron by die skool gesê.

Vir dié skool is hul “sterk verhouding” met ouers hul redding.

“Ons kan cope danksy bydraes van ouers en ons geldinsamelings.”

Volgens die bron is die skool baie streng met die gebruik van enige geld.

“Ons praat met ons ouers oor vrywillige bydraes, maar die reaksie is maar traag. Ons het egter elke termyn ’n groot geldinsameling wat help dat ons met gemak darem kan aangaan.”

Volgens die bron het die ministerie voorskrifte vir die gebruik van die subsidies en ontvang personeel by skole opleiding oor “hoe om die geld te gebruik vir wat”.

“Dit mag nie vir enigiets gebruik word nie en is hoofsaaklik vir kleinskaalse onderhoud soos ’n kraan wat lek of ’n gloeilamp wat geblaas het.”

By skole waar die infrastruktuur oud is, help dié kleinskaalse onderhoud nie meer nie.

“Ons het groot goed wat ons moet dek, soos pype wat bars.”

Die subsidie mag ook nie as ’n “sagte lening” gebruik word om byvoorbeeld ’n onderwyser te ondersteun nie.

Skole moet ook ’n verslag by die ministerie indien oor waaraan die subsidie bestee is en alle skenkings insluit.

Die bron gee toe “ouer generasies” was traer om vrywillige finansiële bydraes te maak. Die bydrae by dié betrokke skool is N$200 per kind per jaar, en net sowat 40% van ouers het dit betaal.

“Nou het ons ’n jonger generasie ouers met ’n beter inkomste wat meer gewillig is om ’n bydrae te maak.”

Ouers sien ook eerstehands die verbeterings wat danksy die geld aangebring word.

“Hulle wil sien dit is tot die kind se voordeel.”

Volgens die bron ondersteun skole ook mekaar en help waar ’n ander iets nie kan bybring nie.

By nog ’n skool is die wan- en laatbetaling van subsidies as ’n “ernstige bron van kommer” beskryf.

“Ons is reeds sewe weke in die tweede termyn en nog niks is betaal nie,” het ’n bron hier gesê. Hier is die vrywillige bydraes vir ouers N$150 per kind per jaar, of N$50 per termyn.

“Daar is dié wat dit nie betaal nie, maar die meeste is egter gewillig om dit te doen.” Volgens dié bron is die betaling van aflosonderwysers ook vir die skool se rekening.

Teen druktyd het die permanente sekretaris, me. Sanet Steenkamp, nog nie op Republikein se vrae gereageer nie.