28 August 2018 | Maatskaplik

Skedels kom dié week

Publiek na plegtigheid genooi

Catherine Sasman - Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, het Vrydag gesê die Hendrik Witbooi-Bybel sal nié volgende week saam met die 27 menslike skedels van Namibiese herkoms na die land terugkeer nie.

Sy het gesê die aanvank­like plan was dat die Bybel terugbesorg word, maar Duitse owerhede het gevra dit moet eers in 'n latere stadium gedoen word omdat onderhandelinge hieroor nog nie gefinaliseer is nie. Die Bybel sal waarskynlik eers ­volgende jaar na Namibië ­teruggebring word.

Dit word tans by die Linden-universiteit in Stuttgart, Duitsland, bewaar.

Lede van die Witbooi-­familie sal die Namibiese ­afvaardiging, wat die skedels in Duitsland gaan ontvang, vergesel en sal by die onderhandelinge betrokke wees wat daar plaasvind.

Hanse-Himarwa het by 'n nuuskonferensie gesê die afvaardiging bestaan uit 74 mense waarvan slegs 11 se reiskostes as gevolg van begrotingsbeperkings deur die Namibiese regering geborg gaan word.

Die 11 mense sluit in Hanse-­Himarwa, wat die afvaardiging gaan lei, sowel as drie amptenare van die departement vir lewenslange onderrig, wat die skedels en dokumentasie sal nagaan.

Ander amptenare sluit een verteenwoordiger van die tradisionele raad in en een amptenaar van die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling, wat deur hierdie ministerie geborg word.

Een verteenwoordiger van die Nasionale Erfenisraad, een verslaggewer en een foto­graaf gaan deur die ­ministerie van inligting en kommunikasietegnologie geborg word.

Die 25 verteenwoordigers van Nama- en Herero- tradisionele owerhede word deur die Duitse ambassade in Namibië geborg. Die Ovaherero-opperhoof, adv. Vekuii Rukoro, tel ook onder hierdie afvaardiging, het Hanse-­Himarwa bevestig.

Ses lede van die Raad van Kerke (CCN) word deur kerke in Duitsland geborg vir die beplande godsdiens­tige seremonies daar.

Veertien lede word deur Air Namibia geborg. Sewe mense wat van Namibië af reis, betaal vir hulself; vyf ­Namibiërs uit die diaspora gaan ook vir hulself betaal.

Hanse-Himarwa sê die grootte van die afvaardiging is deur die groot belangstelling in die terugkeer van die mens­like oorskot beïnvloed.

“Ons kan nie mense daarvan weerhou om te gaan nie. Dit is hoekom ons gesê het hulle moet hul eie reiskostes betaal. Daar is niks daarmee verkeerd nie,” het Hanse-­Himarwa gesê.

Twee gedenkdienste sal in Berlyn gehou word. Die een sal 'n kerkdiens wees en die ander is die amptelike oorhandiging van die skedels aan die Namibiese afvaardiging waar ­tradisionele seremonies gehou sal word. 'n Diens sal Vrydag by die parlementstuine gehou word, waar die publiek hul respek kan betoon.