19 June 2018 | Infrastruktuur

Sinkhuisies blý opskiet

Na raming reeds op 40%

“Onder omstandighede waar armoede en werkloosheid heers, selfs as gedienste grond en behuising beskikbaar is, sal die armes en werkloses dit nie kan bekostig nie.” – Adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling; Derek Klazen

ont face="Verdana" >



Denver Kisting – Mnr. Derek Klazen, die adjunkminister van stedelike en landelike ontwikkeling, sê selfs werkende mense mét behuisingstoelae sukkel om ordentlike huise te bekostig.

Hoewel hy erken sinkhuise word al hoe meer in veral stedelik gebiede, kan hy nie toegee die land se behuisingstelsel word deur sinkhuise gekenmerk nie.

In antwoord op ’n vraag van mnr. Apius Auchab van die United Democratic Front (UDF) oor die toename in informele nedersettings, spesifiek sinkhuise, het Klazen verlede week gesê die styging is hoofsaaklik die gevolg van verstedeliking.

’n Studie wat tydens 2016 landwyd onderneem is, het bevind tot 40% van woonhede in stedelike gebiede is sinkhuise.

Volgens Klazen plaas verstedeliking groot druk op plaaslike owerhede. As gevolg hiervan kan hulle nie finansieel en tegnies die mas opkom wat betref gedienste grond, sanitasie, behuising en ander noodsaaklike dienste nie, sê hy.

Klazen het Donderdag in die Nasionale Vergadering (NV) gesê veelvoudige ingrypings is nodig om die gebrek aan ordentlike behuising die hoof te bied. “Onder omstandighede waar daar armoede en werkloosheid heers, selfs as gedienste grond en behuising beskikbaar is, sal die armes en werkloses dit nie kan bekostig nie.”

Hy het te velde getrek teen die “onredelik hoë” pryse van grondmetings, ingenieursontwerpe, beplanning en ontwikkeling wat meebring dat die mees weerlose lede van die samelewing dit nie kan bekostig nie.

Volgens hom is dit “buite die bereik van die meeste mense, selfs diegene wat werk en behuisingstoelaes ontvang” om 'n dak oor hul kop te bekom.

Klazen sê die regering beplan ’n aantal maatstawwe om die nood te help verlig.

Onder meer beoog die 2018-wet op streeks- en stedelike beplanning om sekere besluitnemingsprosesse meer vaartbelyn te maak en na plaaslike regeringsvlak uit te brei.

Hy sê dít het ten doel om die goedkeuring en lewering van grond te bespoedig.

Klazen sê informele nedersettings neem veral in Khomas en Erongo toe, omdat dié streke die swaarste onder verstedeliking gebuk gaan.