02 March 2017 | Ministeries

Shaningwa: Grond en huise bly 'n kwessie

Ooreenkoms met universiteit

As ons nie 'n manier vind om gelyke geleenthede en toegang tot goeie skole, behuising, gesondheid en ordentlike werksgeleent­hede te skep nie, gaan ons nie as 'n produktiewe en gesonde samelewing oorleef nie.

Dit is die boodskap van die ­visekanselier van die ­Namibiese ­Universiteit van Wetenskap en ­Tegnologie (NUST), prof. Tjama ­Tjivikua, vandeesweek tydens die ­universiteit se openbare forum oor verstedeliking, met die tema ­“Rethinking Housing and Urbanisation”.

Die forum is in 2015 begin om 'n breë spektrum van faktore te takel om voor te berei vir die holistiese hersiening van Nambië se agenda vir behuising en verstedeliking.

Die minister van stedelike en ­landelike ontwikkeling, me. Sophia Shangingwa, het gesê dit is moeilik om eenvoudige antwoorde vir ­veelvuldige kwessies soos grondvoorsiening en veral geskikte ­behuising te vind en dit is nóg moeiliker om vinnige ­oplossings daarvoor te vind.

“Geskikte behuising behels nie net my ministerie nie en die struktuur van die regering moedig nie altyd geïntegreerde ontwikkeling as verantwoordelikhede aan nie.

Begrotings word soms verdeel tussen verskillende ministeries en ander staatsagentskappe,” het Shaningwa gesê.

“Tog is die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling bereid om leiding te neem in die proses om meer geïntegreerde benaderings tot stedelike ontwikkeling te bevorder.”

Shaningwa sê die ministerie sal voortgaan om hulp van ander ministeries, akademiese instellings, die private sektor en die burgerlike samelewing te aanvaar.

“Hoewel wetgewing en statutêre vereistes hersien word, gaan dit alleen nie grond en geskikte behuising aan Namibiërs voorsien nie,” het die minister gesê.

“Met die huidige ekonomiese vooruitsigte in die land moet openbare besteding rakende grond en die voorsiening van behuising goed geadministreer word,” sê sy.

“Hoewel die regering nie vir elke Namibiese huishouding 'n huis kan bou nie, kan dit toestande vir Namibiërs verbeter deur verskeie wen-wen inisiatiewe soos openbare-private ondernemings wat die regering ten volle ondersteun.”

Volgens Tjivikua het NUST onlangs 'n ooreenkoms met die ministerie aangegaan om die bloudruk te hersien en 'n strategie vir die implementering van die massabehuisingsprogram te ontwikkel.