11 September 2018 | Sport

Serena se woedeaanval verdeel tenniswêreld

Die chaotiese einde aan die vroue-eindstryd by Saterdag se Amerikaanse Ope-tennistoernooi het regoor die wêreld ’n vurige debat veroorsaak.

Die meeste mense is in twee kampe verdeel – diegene wat meen Serena Williams se optrede was skandelik en diegene wat glo sy was ’n slagoffer van ’n oorentoesiastiese en selfs diskriminerende skeidsregterbeslissing.

Tenniskykers en die media verkeer sedertdien in ’n hewige meningsverskil, maar ABCSport berig selfs Williams se medespelers vind dit moeilik om konsensus te bereik.

Die wenner van 23 Grand Slam-titels is tydens Saterdag se wedstryd, wat sy met 2-6, 4-6 teen Naomi Osaka van Japan verloor het, gewaarsku vir ’n afrigtingsoortreding en met ’n punt gestraf nadat sy haar raket stukkend geslaan het.

Die Amerikaner het daarna heftig teenoor die skeidsregter Carlos Ramos uitgevaar en is uiteindelik met ’n pot gestraf.

Williams het steun uit talle oorde ontvang. Die Amerikaanse tennislegende Billie Jean King het haar bedank dat sy “lig gewerp het op hierdie dubbele standaarde”, terwyl Victoria Azarenka meen “dit sou nooit so gebeur het as dit ’n manswedstryd was nie”.

Die gewese speler John McEnroe, berug vir sy uitbarstings op die baan, het ook Williams se kant gekies en gesê dis waar dat mans al met baie erger dinge op die baan weggekom het.

Steve Simon, grootbaas van die WTA-reeks het hom ook agter Williams geskaar.

“Die WTA is daartoe verbind om saam met die sport te werk om te verseker dat alle spelers dieselfde behandel word. Ons glo nie dit was Saterdag die geval nie,” sê Simon.

Maar daar was nie alom ondersteuning vir Williams nie. Die voormalige Aussie-tennisspeler Casey Dellacqua sê sy is nie oortuig seksisme het ’n rol in die voorval gespeel nie.

“Ramos het ’n baie, baie goeie geskiedenis en is ’n uitstekende skeidsregter,” sê sy.

“In hierdie geval voel ek nie seksisme het ’n rol gespeel nie. Die sport het ongetwyfeld oor die jare met kwessies rondom geslag gesukkel en ek dink ons het in daardie opsig ver gevorder.

“Maar wat in hierdie wedstryd gebeur het, sake het met die afrigtingsoortreding begin lostorring en haar emosies het op hol gegaan.”

Dellacqua het Ramos se integriteit verdedig en meen die afrigting van spelers vanuit die spelershokkie is een van die moeilikste oortredings vir skeidsregters om oor te beslis.

“Ramos het al tevore vir (Rafael) Nadal vir tydmors gestraf. Hy is ’n konsekwente skeidsregter en een van die bestes. Dit is sy kollegas wat dalk by hom afsteek.

“Afrigtingsoortredings is ’n moeilike kwessie. Dit gebeur so baie en ons sien dit gereeld. Handgebare, verbale kommunikasie en dies meer word nie altyd deur skeidsregters opgemerk nie.

“Ek kan dus Williams se frustrasie met die situasie verstaan. Dit was ’n emosionele kragmeting, punt, en dinge het net van daar af losgetorring.”

Die Aussie-legende Margaret Court, wat die rekord vir die meeste Grand Slam-titels hou (24), het Williams se optrede veroordeel.

“Ons moes altyd by die reëls hou. Dis jammer wanneer ’n speler groter as die reëls raak,” het sy in ’n onderhoud met The Australian gesê.

Richards Ings, ’n voormalige top-skeidsregter en voorheen ook die ATP-reeks se uitvoerende visepresident vir reëls en kompetisie, sê Williams is die een wat jammer moet sê.

Ings het in die Amerikaanse Ope in 1987 vir McEnroe met ’n punt en toe ook ’n pot gestraf weens vulgêre taalgebruik teenoor die skeidsregter.

“Ons moenie dat haar rekord, so briljant as wat dit ook al is nie, die feit oorskadu dat sy in dié wedstryd die een was wat verkeerd opgetree het nie.” – Netwerk24, Reuters, Indian Express