13 December 2017 | Visserye

Sardynvangste gestaak

Moratorium van 3 jaar goedgekeur

Pieter Greeff; Besturende direkteur Etosha Fishing“Vir die volgende jaar kan ons nog oorleef, maar in die jare daarna?”

Augetto Graig



Vanaf 1 Januarie 2018 tot 31 Desember 2020 sal geen grootskaalse vangste van sardyne in Namibiese waters toegelaat word nie.

Die kabinet het op 6 Desember besluit daar sal oor die volgende drie jaar geen kwotas vir sardyne toegeken word nie.

Die minister van inligting en kommunikasietegnologie (ICT), mnr. Tjekero Tweya, het gister dié kabinetsbesluit bekend gemaak.

Die aanmoediging om die plaaslike sardynbron te beskerm, kom van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne. Minister Bernard Esau was vroeër reeds in gesprek met die Namibiese visnywerheid wat klaar deur moeilike tye gaan.

Volgens mnr. Pieter Greeff van Etosha Fishing, wat sardyne onder die Lucky Star-handelsmerk inlê, het die minister al op 29 November 'n ­vergadering met die betrokke belanghebbendes en wetenskaplikes gehou.

“Ons het ook gehoor van die moratorium en dit is nie goeie nuus nie, maar te verwagte.

“Ons het die afgelope paar jaar geweet iets moet gedoen word om die bron te beskerm,” sê Greeff. Vanaf 2010 voer Etosha Fishing gevriesde sardyne uit Marokko in om sy mense in diens te hou en die plaaslike fabrieke aan die gang te hou, sê hy.

As verwerker beoog die maatskappy om nog groot handelsmerke soos Glenryck Pilchards se vis op Walvisbaai te verwerk en verpak asook op die vasteland te versprei.

Met sterker bemarking en verkope hoop Greeff om sy produkte buite Namibië te verkoop en ná sukses in Zambië, kyk hy nou ook na ander SADC-lande.

Die probleem is die hoë koste van sardyninvoere wat in Amerikaanse dollar aangekoop word, sê hy. Suid-Afrikaanse vangste was onlangs ook nie goed nie en verpakkers sal na verwagting almal na Marokko kyk vir die vis, wat pryse sal laat styg.

“Vir volgende jaar kan ons nog oorleef, maar in die jare daarna?” het hy die volhoubaarheid van die praktyk bevraagteken. Uit verpakking en verkope kan Etosha nog die koste van die fabriek dek, maar ander koste soos administrasie en die bote word nie gedelg nie.

Volgens Greeff moet die minister help deur van die 340 000 metrieke ton toelaatbare marsbankervangste vir 2018 wat ook gister aangekondig is, vir die sardynvangers te gee. Etosha se sleepnettrekker Iona kan, met toestemming, buite die 200 meter-dieptemerk vang en van die maasbanker kan gevries of bewerk en geblik word, sê Greeff.

“Ons moet belê om produktief en ekonomies te word.“ Greeff sê hy oorweeg tans met wie op Walvisbaai Etosha 'n kontrak gesluit kan word om die oormaat vis te vries as daar eers gevang word.

Die nuus oor die staking van Namibiese sardynvangste gaan uitkringende gevolge hê en vereis optrede deur die bedryf wat teen September reeds 1 200 werkgeleenthede verloor het, en toe nóg 2 000 werksverliese verwag het.

Namsov is die eienaars van die gevestigde Namibiese handelsmerk Ocean Fresh, wat ook geblikte sardyne vervaardig. Me. Tuna Willem, die hoofbeampte van volbouhaarheid, sê hulle is besig om sekere belangrike transformasie-inisiatiewe te onderneem. “Dit word gedoen in samewerking met ons ministerie en aandeelhouers,” sê sy, maar wil nie besonderhede verskaf nie.

Die kwota vir rooikrap vanaf 1 Januarie 2018 tot 31 Desember 2018 beloop 3 446 metrieke ton. Vir die laaste 40 jaar stuur Japannese krapvangers, soos dié van die Kani Monogatari-restaurant, skepe na die Namibiese kus om hierdie lekkerny in die hande te kry. Ander lande wat ook in Namibiese waters rooikrap in die diepsee vang, sluit in Spanje, Portugal en Suid-Korea. Namibiërs vang naas die Japannese jaarliks die meeste.