03 May 2019 | Kuns en vermaak

Salona sluimer onder olyfboomwortels

Pedro Vorster



Salona roep. Ek hoor en draai van die Split-hoofpad af. In antieke tye was Salona die hoofstad van die Romeinse provinsie Dalmasië. Nou wink haar oorblyfsels my na die middel van moderne Solin wat kuslangs noord van Split lê – ‘n groot Kroatiese skeepsbou- hawestad.

My eerste swem in die Adriatiese See is hier in die omgewing van Solin in ‘n fraai baaitjie. Dit is ‘n vreemde ervaring. Soos ‘n rob kon ek maklik omdraai en op my rug lê en sou selfs ’n boek kon lees as ek een gehad het. Dit voel of ek óp die water dryf en nie daarín nie. Die see hier is stiller, warmer, helderder en moontlik souter as die see by Langstrand.

Trek gerus sandale aan op stranddag, want kaalvoet oor die klein harde, ronde Kroatiese strandklippertjies is ‘n hinkepink affêre.

“Ons hou van ons strande só. As ons sand wou gehad het, het ons dit aangery,” is een kontant Kroatiese vroutjie se kommentaar.

Die Grieke skop vroeg nes in Salona, een duisend jaar v.C. Hulle verower vreedsaam deur handel te dryf en rig ‘n emporium op.

Ek loop op geskiedenis. Onder die wortels van olyfbome word Salona stuk-stuk opgegrawe en herontdek.

Die paghouers bo-op die antieke stad is nou verbied om hul olyfboorde verder te vergroot en die boorde sal mettertyd oorgedra word aan die kultuutbewaringskommitees, wat die murasies dan heeltemal kan uitgrawe.

Oor die jare kry hierdie tipiese Romeinse stad sterker stadsmure om die barbare buite te hou. Die meedoënlose vervolging van Keiser Diocletian wat Christene in die amfiteater teregstel, laat mens wonder of die barbare nie al lankal binne die stadsmure was nie.

Tydens die Romeinse burgeroorloë omskep Julius Ceasar die dorp in ‘n volwasse stad wat oor ‘n forum, teater en ‘n akwaduk beskik – kortom al die strukture wat dit ‘n properse antieke Romeinse stad maak, beskaafd genoeg vir sy inwoners.

Die ruïnes praat met my. Daar is ‘n salige lotsaanvaarding in die gebroke mure en kopaf pilare.

Staan opsy, hier kom die keiser nou juis windgat op sy perd verby. Julius is met sy kavalkade op pad na die amfiteater waar die gladiators se wapens klap en klink. Volgepak juig 18 000 toeskouers bloeddorstig. Die vegters aanbid die godin Nemesis en baie kom haar daar tee.

Terwyl die oorgewig, ryk ou man in die publieke baddens sy oordaad probeer wegsauna, beplan sy jong vrou moord.

As ‘n laaste belediging kry sy sarkofaag ‘n lelike, vet bakkies op.

‘n Aantal van hierdie marmerklipkiste, versier met reliëfs, staan vandag so rond en bont in een hoek van Salona. Die Romeine het nie hierdie laaste rusplekke binne die stadsmure toegelaat nie. Maar nie elke hierjy kon ‘n duur marmerkis bekostig nie en ‘n versierde klipkis was die laaste spog van welaf inwoners. Die beste voorbeelde word in Split se Argeologiese Museum bewaar.

Terug in die hede: Een gerestoureerde kolonnade word gekies as romantiese agtergrond vir ‘n troufotosessie. Die prieel eindig in ‘n klipbankie en die opgewonde bruid pronk tevrede daarop. Dit verg nie baie verbeelding om Romeinse dames in vloeiende tabberds, asook mans in jurke en togas hier op en af te sien wandel en flankeer nie.

Die stad se Christen-martelaars word in latere eeue met altaars vereer. In die vierde en vyfde eeu n.C. word kerke, ‘n basilika en ‘n baptisterium gebou vir onderdompeling. Die stad word deur die Aware en Slawe in sak en as gelaat in die sewende eeu n.C. Dit was nie genoeg nie en in die 17de eeu, tydens die Turkse oorloë, sloop die Venesiërs die stad om strategiese oorwegings.

Nou is net gefragmenteerde dele sigbaar en dit verg ‘n sterk verbeelding om die geboue uit hul fondasies te laat herrys en dit voel of ek oppervlakkig óp en nie diep ín Kroasië se geskiedenis krap nie.