22 June 2018 | Infrastruktuur

SAA wil tot 1 500 mense afdank

Francois Williams - Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA) se personeelgetalle kan met 10% tot 15% verminder word as planne deurgevoer word om poste te sny om geld te bespaar.

Volgens die SAA se jongste jaarverslag het die SAA as groep 10 071 werknemers. Dit sluit benewens die SAA se 5 752 werknemers ook die personeel van Mango, Airchefs, SAA Tegnies, SAA se vragafdeling, SAA Voyager en South African Travel Centre, 'n reisagentskap, in.

Volgens Sunday Times sal die staatsbeheerde lugdiens waar­skynlik tussen 1 000 en 1 500 poste moet sny deur 'n kombinasie van afleggings en vrywillige ­uitdienstredings.

Volgens 'n bron van die Sunday Times kan die poste wat in die slag bly, tot 300 kajuitpersoneel insluit.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAA, het vroeër aan Carin Smith van Fin24 erken die lugdiens kom nou in 'n fase waar moeilike besluite geneem moet word en werkverliese is “onafwendbaar” .

“Die huidige bedryfsgrondslag is nie volhoubaar nie.”

Jarana het vroeër ook as deel van die SAA se verslagdoening aan die parlement verduidelik die SAA help reeds van sy vlieëniers en kajuitpersoneel om elders by ander lugdienste tydelike werk te kry, want die SAA kan hulle nie meer bekostig nie. Sodra die lugdiens weer begin groei, sal hulle weer benodig word, het hy beklemtoon.

Die SAA het in die afgelope boekjaar 'n verlies van R5,7 miljard gely. Jarana en die nuwe direksie het 'n omdraaiplan waarmee hulle mik om die lugdiens teen 2022 weer winsgewend te kry.

Op grond van die SAA se totale personeelgetalle en sy vloot van 64 vliegtuie is sy werknemer-tot-vliegtuig-verhouding tans rondom 157 werkers per vliegtuig. Dit word soms in die bedryf gebruik as 'n maatstaf vir produktiwiteit.

Vergeleke hiermee het die Duitse lugdiens Lufthansa 127 werkers per vliegtuig en Singapore Airlines 140 per vliegtuig. – Netwerk24