04 September 2018 | Afrika

SA Reserwebank: Geveg dreig oor R741 mjd.

'Ek behoort nie my tyd hiermee te mors nie'

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, maak hom reg vir 'n geveg om die bank se reserwes van R741 miljard te beskerm.

Die ANC het agt maande gelede besluit die Reserwebank moet deur die staat besit word.

Die Reserwebank is een van 'n handvol sentrale banke, waaronder dié van Switserland en Japan, wat nog in private besit is.

Kganyago sê die belangrikste kwessie bly vir hom om die onafhank­likheid en mandaat van die Reserwebank te beskerm as nasionalisering plaasvind. Die reserwes, wat miljarde rand beloop, kan egter in die gedrang kom en kan 'n regsgeding meebring wat jare kan duur.

Gegrond op sy huidige aandeelprys is die aandele van die Reserwebank omtrent net R20 miljoen werd.

Volgens Kganyago sê sommige aandeelhouers die bank se bates behoort aan hulle en hulle moet vergoed word daarvoor as die regering die instelling nasionaliseer. “Sommige aandeelhouers wil betaal word om weg te gaan. Wys my die geld, wys my die geld, is hul benadering.”

Sowat 8% van die 770 aandeel­houers is buitelanders.
GRONDWET VERANDER

Jannie Rossouw, hoof van ­ekonomie en sakewetenskappe aan die ­Univer­siteit van die Witwatersrand, meen beleggers wat dink hulle is geregtig op 'n deel van die reserwes, is verkeerd. Hy besit aandele en is 'n voor­malige sekretaris van die ­Reserwebank.

Elke aandeelhouer mag net 10 000 aandele hou en het geen sê in die ­monetêre beleid nie. Hulle kan vir sewe van die bank se tien nie-uitvoerende direkteure stem.

Kganyago het verlede jaar die voorstel van die openbare beskermer (OB) teengestaan om die Reserwebank se grondwet te verander om sy inflasieteiken-mandaat te verwyder.

Die EFF het verlede maand 'n wetsontwerp ter tafel gelê om die ­Reserwebank in staatsbesit te kry.

“Is dit 'n Trojaanse perd,” vra Kganyago.

“As dit daartoe lei dat daar 'n debat is oor die mandaat van die bank en sy onafhanklikheid – kyk net wat het met Turkye gebeur, kyk na Argentinië en Venezuela. As jy 'n voorbeeld in Afrika soek, kyk na Zimbabwe.”

“As hulle met ons onafhanklikheid wil peuter, gaan daar 'n geveg wees. Maar dit is die verkeerde tyd vir 'n geveg. Daar is genoeg on­stuimigheid in die opkomende markte wat my besig hou. Ek behoort nie my tyd hiermee te mors nie,” sê Kganyago.

Die rand het verlede maand tot sy swakste vlak teen die dollar geval nadat probleme in Turkye oorgespoel het na ander opkomende markte.
– Netwerk24/Bloomberg