31 August 2018 | Afrika

SA regering pleit vir dwelmmuil

Tyron Lee Coetzee (34), die Suid-Afrikaner wat in Viëtnam skuldig bevind en ter dood veroordeel is weens dwelmhandel, word deur die Suid-Afrikaanse regering ­ondersteun.

“Maar Suid-Afrikaners wat reis, is altyd aan die wette van daardie land onderhewig, selfs as ons Grondwet die reg op lewe waarborg,” het Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco), Woensdag aan News24 gesê.

“Ons het hom na die hof vergesel en tree as 'n tussenganger tussen hom, sy gesin en sy prokureur op,” het Mabaya gesê.

Die Associated Press (AP) het Dinsdag berig dat 'n hof in Ho Chi Minh in Viëtnam Coetzee ter dood veroordeel het nadat hy in Junie 2016 op die Tan Son-lughawe in hegtenis geneem is. Die polisie het 1,46 kg kokaïen in sy bagasie gevind.

“Ons bied konsulêre dienste aan Suid-Afrikaanse burgers,” het Mabaya gesê.

Wat betref die doodsvonnis het Mabaya gesê Dirco kan nie inmeng met die wette van ander lande nie, maar sal “diplomatieke maatreëls” gebruik om 'n ander vonnis te probeer bewerkstellig.– Netwerk24