30 August 2018 | Afrika

SA man kry doodstraf in Viëtnam vir dwelmhandel

’n Suid-Afrikaanse man is Dinsdag in Viëtnam – een van die lande wat die strafste teen dwelmhandelaars optree – skuldig bevind en ter dood veroordeel.

Volgens die nuuswebblad Makuhwa het ’n staatskoerant berig dat Tyron Lee Coetzee (34) ter dood veroordeel is nadat hy in Junie 2016 op die Tan Son-lughawe in hegtenis geneem is. Die polisie het 1,46 kg kokaïen in sy bagasie gevind.

VNExpress het in Mei vanjaar berig dat Coetzee in die hof gesê het dat ’n Nigeriese man, ene Oden, hom US$3 500 belowe het as hy die kokaïen vervoer. Hy het ook beweer dat hy aan skisofrenie ly.

Sy saak was daarna vir sielkundige waarneming uitgestel.

Wanneer iemand met 600 g of meer kokaïen of heroïen betrap word, is dit strafbaar met die dood.

Newswebindia berig dat die Viëtnamese owerhede aan Reuters gesê het die polisie het sedert die begin van die jaar 13 000 dwelmverwante sake gehanteer. In dié tydperk is 18 500 dwelmsmokkelaars aangekeer en op 880 kg heroïen, 414 kg tik, asook 13 ton dagga en opium beslag gelê. – Netwerk24