16 April 2019 | Landbou

SA ken van hoendervleis produseer

Elvira Wood - Suid-Afrika is een van die wêreld se mededingendste lande waar dit kom by die ­produksie van braaihoenders.

Dis geen wonder nie, want luidens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) verorber Suid-Afrikaners sowat 28 miljoen hoenders in 'n week.

Luidens 'n studie wat deur die Buro vir Voedsel en Landboubeleid gedoen is, is Suid-Afrika die sesde mededingendste land uit 16 wat by die peiling ingesluit is met die produksie van braaihoenders.

Die studie wys dat dit tussen 10% en 20% goedkoper is om 'n braaihoender in Suid-Afrika te produseer as wat dit is om dit in lande soos Nederland, Duitsland, Frank­ryk, Brittanje, Italië, Spanje en Denemarke – almal lid van die Europese Unie (EU) – te produseer.

Die EU word in dié studie as 'n enkele produsent beskou.

Brasilië en die VSA – die wêreld se twee grootste hoenderprodusente – produseer hul braaihoenders egter steeds teen 'n laer prys as wat Suid-Afrikaanse boere kan.

Voer, arbeid, behuising en die koste daarvan om hoenders te slag is deur die buro gebruik om die totale produsenteprys van 'n braaihoender te bereken.

“Die navorsing wys egter dat Suid-Afrikaanse braaihoenderprodusente al hoe meer doeltreffend raak. Hulle produseer byvoorbeeld meer braaihoenders per werker, gebruik voer beter en produseer hoenders wat meer weeg teen die tyd wanneer dit geslag word,” lui die navorsingsverslag.

Die buro het amptelike bedryfsyfers van 2017 vir sy studie gebruik en dit met dié van 2015 vergelyk.

Die navorsing wys egter dat Suid-Afrikaanse braaihoenderprodusente al hoe meer doeltreffend raak.

Invoer

Die buro wys daarop dat Suid-Afrikaanse braaihoenderprodusente geen ander keuse het as om meer mededingend te word nie, gesien die groot hoeveelheid hoendervleis wat ingevoer word.

Sy syfers wys dat waar 86% van die hoendervleis wat tussen 2000 en 2015 in Suid-Afrika geëet is, plaas­lik geproduseer is, dié syfer tot 27% tussen 2010 en 2017 gedaal het.

Sapa en ander belangegroepe soos FairPlay, wat hom vir 'n billike handelsomgewing beywer, voer lank reeds 'n stryd met die regering oor die groot hoeveelhede hoendervleis wat na Suid-Afrika ingevoer word.

Daar is veral 'n probleem wat betref die invoer van bevrore hoenderstukke.

FairPlay voer aan daar is verskeie lande wat hoenderstukke goedkoop in Suid-Afrika stort omdat daar nie 'n groot genoeg aanvraag daarvoor in hul plaaslike mark is nie.

Hoewel dié “hoenderoorlog” die prys van hoendervleis in Suid-Afrika laer druk, is dit nie noodwendig goed vir die verbruiker nie.

FairPlay waarsku dat daar geen beheer is oor wat met die gevriesde hoendervleis gebeur of hoe dit vervoer word nie. Dit beteken dit kan 'n groot gesondheidsgevaar vir Suid-Afrikaanse verbruikers inhou.

Hoender is verreweg die goedkoopste vleis tans beskikbaar in Suid-Afrika.

Luidens South African Market Insights kos hoender tans gemiddeld R47,19 per kg afhangende van waar in Suid-Afrika dit gekoop word. Dit teenoor lamstjops – die duurste soort vleis – wat tans sowat R159,40 per kg of meer kos.

Hoender verteenwoordig sowat 65% van alles vleisverbruik in Suid-Afrika. – Netwerk24