08 March 2018 | Sport

SA atletiek geskok oor Comrades-ster se dood

Sportredaksie

Die Suid-Afrikaanse padwedloop-gemeenskap ly nog aan skok ná die skielike afsterwe van die Comrades-gouemedaljewenner Siphiwe Ndlela.

Dié 28-jarige atleet, wat verlede jaar sesde in die Comrades-ultramarathon tussen Pietermaritzburg en Durban geëindig het, was verlede week by ’n oefenkamp in die Drakensberge toe hy oorlede is. Ndlela en vyf ander atlete het in die Himeville-gebied geoefen toe hy maagkrampe begin kry het. Hy het kruiemedisyne gebruik om dit te behandel, maar kort daarna erg begin sweet en opgooi.

Paramedici is ontbied om hom by te staan, maar het vergeefs probeer om hom aan die lewe te hou en hy is op die toneel dood. Volgens Nick Bester, hoof van die Nedbank-atletiekklub in wie se kleure Ndlela deelgeneem het, was dié langasem een van hul mees belowende atlete en het hulle hom as ’n toekomstige Comrades-wenner bestempel.

“Ons was elke tree van sy ontwikkeling as atleet saam met hom. Hy was geweldig bestendig en het twee jaar agtereenvolgens goue medaljes in die Twee Oseane-marathon, Comrades- én Soweto-marathon verower,” het Bester vertel.

Cheryl Winn, voorsitter van die Comrades-vereniging, het Ndlela as ’n nederige, gedissiplineerde atleet bestempel wat ander met sy puik vertonings geïnspireer het. Ndlela was nie getroud nie en word deur ’n ma, broer en drie susters oorleef. ’n Gedenkdiens sal Sondag in Ixopo vir hom gehou word. – Netwerk24