04 September 2018 | Landbou

Só lyk SA se mielieoes vanjaar

Finale skatting is 13,2 miljoen ton

Die finale skatting van die huidige seisoen se mielie­oes is onveranderd gelaat op 13,2 miljoen ton teenoor die vorige twee skattings in Junie en Julie, maar 21% kleiner as in 2017.

Die 2017-rekordoes van 16,8 miljoen ton ná goeie reën het gevolg ná 'n paar jaar van erge droogte waarin Suid-Afrika selfs mielies moes invoer.

Volgens die nasionale oesskattingskomitee is die verwagte witmielieoes dié seisoen 6,9 miljoen ton, met 'n opbrengs van 5,43 ton per hektaar.

Vir geelmielies word 'n oes van 6,3 miljoen ton verwag en 'n opbrengs van 6,02 ton per hektaar.

“Hoewel dit minder as verlede jaar se rekordoes van 17,6 miljoen ton is, is dit ver bo die langtermyngemiddelde van 12,5 miljoen ton. Saam met oordragvoorraad van die vorige seisoen, bring dit die voorraad vir die 2018-'19-­bemarkingsjaar op 16,7 miljoen ton te staan.

“Die plaaslike vraag is maar 10,8 miljoen ton.” Só het mnr. Wandile Sihlobo, hoof van landbounavorsing by die landbousakekamer Agbiz, vroeër aan Landbouweekblad gesê.

Die produksieskattings vir ­sonneblomsaad en sorghum is opwaarts aangepas, terwyl die skattings vir sojabone, grondbone en droëbone onveranderd gelaat is, sê die komitee.

Wat wintergewasse betref, is die voorlopige skatting van die oppervlakte onder koring 505 000 ha, wat 2,73% of 13 400 ha meer is as die 491 600 ha wat verlede seisoen aangeplant is.

Die beraamde oppervlakte in die Wes-Kaap is 318 000 ha, wat 8 000 ha minder is as die 326 000 ha wat verlede seisoen aangeplant is. Vir die Vrystaat is die aanplantings 100 000 ha, wat 20 000 ha meer is as die 80 000 ha wat verlede seisoen aangeplant is. In die Noord-Kaap bly die oppervlakte dieselfde op 38 000 ha. – Netwerk24