07 September 2018 | Internasionaal

Russiese 'spioene' se moordtog

Verbonde aan intelligensiediens

Die twee Russiese mans wat Woensdag deur die owerheid in Brittanje daarvan aangekla is dat hulle van Moskou na Engeland gereis het om die voormalige Russiese spioen Sergei Skripal (66) en sy dogter Joelia (33) in Salisbury te vermoor is verbonde aan Rusland se intelligensiediens, die GRU.

Theresa May, Britse premier, sê sy glo die operasie is ook op senior regeringsvlak goedgekeur en dus gaan Brittanje voortaan sy hulpbronne in alle nasionale veiligheidsentiteite inspan om die GRU teen te werk.

Aleksander Petrof en Roeslan Bosjirof het Skripal en sy dogter op 4 Maart met nowitsjok, ’n senugif uit die Sowjet-era, vergiftig. Hulle het na bewering twee dae voor die aanval vanaf Moskou na Londen toe gevlieg. Die Skripals het die aanval oorleef.

Skripal is deur pres. Wladimir Poetin se regime vir ’n verraaier uitgekryt omdat hy staatsgeheime verkoop het en toe na Brittanje geëmigreer het. Die twee beskuldigdes word deur ’n klag van sameswering om moord te pleeg, en dat hulle die chemiese wapenwet oortree het in die gesig gestaar.

Die diplomatieke krisis wat ontstaan het ná die aanval, het nou verdiep, met May wat gesê het “die GRU hou ’n bedreiging vir al ons bondgenote en landsburgers in”, berig die Financial Times.

Brittanje sal Donderdag verdere getuienis in verband met die aangeleentheid aan die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad voorlê, berig die BBC. Kringtelevisiemateriaal van die verdagtes het aan die lig gekom waar hulle op die Gatwick-lughawe in Londen aankom, in ’n hotel in die ooste van die stad tuisgaan, en waar hulle in Salisbury na die Skripals se huis gaan.

Brittanje gaan nie vra dat die twee uitgelewer word nie, aangesien Rusland se grondwet dit nie toelaat nie, berig The Guardian. ’n Europese lasbrief vir hul inhegtenisneming is egter uitgereik, en sou hulle na lande reis waar die lasbrief geldig is, sal hulle onmiddellik aangekeer word. Rusland het gereageer deur te sê die name en foto’s wat bekend gemaak is, “beteken niks”.

Maria Zakharowa, woordvoerder van Rusland se ministerie van buitelandse sake, het ook ’n beroep op Brittanje gedoen om op te hou om openbare aantygings te maak. – Netwerk24