06 September 2018 | Internasionaal

Rusland hervat lugaanvalle op Sirië se Idlib-streek

Russiese lugaanvalle op die noordwestelike Siriese provinsie Idlib is Dinsdag hervat.

Pres. Basjar al-Assad van Sirië is voornemens om elke duim van Sirië van die rebelle terug te neem en het groot vordering daarmee gemaak sedert Rusland hom in 2015 by sy magte aangesluit het.

Idlib is die laaste rebellevesting en volgens ’n regeringsbron is daar reeds verlede week voorbereidings getref om dié streek stuksgewys terug te wen.

Turkye, wie se weermag ’n hele aantal waarnemingspunte aan die rand van die rebellegebied het, het teen so ’n plan gewaarsku.

Russiese lugaanvalle het op 15 Augustus in en om Idlib opgehou, maar volgens ’n oorlogsmonitor het die regeringsmagte bomaanvalle op die rebelle voortgesit.

Iran, wat ook die Assad-regering steun, het Maandag gesê Idlib moet “skoongemaak” word van militante.

AMERIKA

Pres. Donald Trump van Amerika het Al-Assad, Rusland en Iran gewaarsku teen ’n “roekelose aanval” op Idlib weens die honderdduisende burgerlikes wat kan omkom.

Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Vrydag gewaarsku dat ’n aanval op Idlib as ’n eskalering van die Siriese oorlog beskou sal word en dat Amerika sal optree indien chemiese wapens gebruik word.

Russiese, Turkse en Irannese leiers vergader Vrydag in Iran waar die situasie in Noordwes-Sirië na verwagting bespreek sal word. – Netwerk24