27 December 2018 | Regering

Riool: Meer as 1 600 verstoppings in November

‘Moenie beeskoppe, motorbande wegspoel’

Elvira Hattingh - Windhoek se munisipaliteit doen ‘n beroep op Windhoekers om nie allerhande voorwerpe in die rioolstelsel te gooi en onwettige aansluitings met die rioolstelsel te maak nie.

Dít ná hulle in November alleen meer as 1 600 verstoppings die hoof moes bied.

“Altesaam 998 van die verstoppings het in die noordelike voorstede voorgekom. Van die items wat uitgehaal is, sluit in motorbande en –onderdele, beeskoppe, (vleis)bene, lakens, klere, stokke en staalvoorwerpe,” lui ‘n nuusverklaring wat die munisipaliteit verlede Donderdag uitgereik het.

“Die verstoppings kan daartoe lei dat rioolwater oorloop en die omgewing besoedel en bydra tot die verspreiding van siektes soos hepatitis E.

“Die publiek word daaraan herinner om op die regte manier van nie-wegspoelbare voorwerpe ontslae te raak– by die aangewese asgate oraloor die stad.

“Dit maak saak wat in die rioolstelsel afgespoel word, omdat die munisipaliteit daagliks ‘n groot deel van beperkte hulpbronne moet gebruik om verstoppings te herstel. Die verstoppings word veroorsaak deur items wat nooit in die rioolstelsel moes beland het nie.

“Ons maak dus op inwoners staat om ons hierin te steun,” sê die verklaring.

Republikein het vroeër berig die getal hepatitis E-gevalle landswyd het reeds die 4 000-kerf verbygesteek, en meer as 80% van die gevalle word met die Havana- en Goreangab- informele nedersettings in Windhoek verbind.

Volgens die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is die grootste dryfvere vir die verspreiding van die siekte ontlasting in die oopte, sowel as swak sanitasie en higiëne.

Windhoek se inwoners kan probleme met die riool- of waterstelsel by (061) 290 2402/2162 aanmeld.