07 September 2018 | Landbou

Reusehap van Noorweegse beesvleiskwota vir Meatco

Mag 1 529,5 ton uitvoer

Ronelle Rademeyer



'n Kwota van 1 529,5 ton is aan Meatco toegeken vir die uitvoer van beesvleis na Noorweë in 2018.

Dit is een van die winsgewendste uitvoermarkte vir Namibië.

Dít volg nadat 'n bykomende 229,5 ton aan dié vleisverwerker toegeken is nadat Brukarros Meat Processors (BMP) buite Keetmanshoop net 70,5 ton van sy 300 ton uitvoerkwota kon benut.

Dit is goeie nuus vir Meatco wat weens dalende deurset en die swak ekonomie deur die donkerste tyd in sy geskiedenis gaan.

Die jaarlikse kwota vir beesvleis na Noorweë beloop 1 600 ton, waarvan 1 300 ton vroeër reeds aan Meatco toegeken is.

“Meatco het aan Noorweë bewys hy het die kapasiteit en vermoë om die volle kwota wat toegeken is, te lewer en daarom ook in die toekoms selfs meer sal kan uitvoer,” sê dié uitvoer-abattoir in 'n verklaring.

Die Noorweegse mark is nie net vir Namibië belangrik nie, maar ook vir ander lidlande in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu).



ooreenkoms

Sacu het tydens die onlangse onderhandelinge vir 'n Efta-ooreenkoms (vrye handelsooreenkoms en handelsbetrekkinge tussen lande) aansoek gedoen vir die vergroting van die Noorweegse kwota.

Hoewel dit positief verloop het, wag lande binne hierdie unie nog op 'n amptelike antwoord.

Volgens Meatco se hoof- finan­siële beampte, me. Ilana Brown, is hierdie bykomende uitvoer­kwota van kritieke belang en kom dit op 'n tyd wat die onderneming sy inkomste uit elke kilogram beesvleis moet maksimaliseer.

“Die finansiële voordele hiervan is beduidend vir Meatco se inkomste in die huidige finansiële jaar wat tot 31 Januarie 2019 strek,” sê sy.

Meatco sê hy gaan die bykomende tonnemaat vir Noorweë bekom deur vleis wat vir ander markte bestem was, daarheen te kanaliseer.