12 September 2018 | Sport

Rassie gaan met Jesse verras

Hendrik Cronjé



Jesse Kriel se ervaring, grootte, spierkrag en verdediging kan voorkeur bo die minder ervare Cheslin Kolbe se plofkrag, ratsheid en onvoorspelbaarheid kry wanneer Rassie Erasmus oor sy plaasvervanger vir Makazole Mapimpi besluit.

Die Springbok-afrigter het 'n sterk aanduiding gegee dat hy Kriel op regtervleuel vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Wellington gaan kies.

Erasmus het ook geskimp dat hy Malcolm Marx en Handré Pollard in sy beginspan sal insluit.

Marx en Pollard kan twee van die drie verwagte veranderinge tesame met Kriel se posisionele skuif aan die beginspan wees.

Lukhanyo Am behoort in die derde skuif Kriel op buitesenter te vervang.

Kriel se skuif is grootliks noodgedwonge ná Mapimpi se besering. Laasgenoemde is reeds teruggestuur huis toe om skanderings van sy regterknie te laat doen, wat hy Saterdag in Brisbane teen die Wallabies beseer het.

Erasmus het nie 'n plaasvervanger soos Ruan Combrinck of Lionel Mapoe ontbied nie, aangesien die speler eers vandag in Wellington sou aankom.

Met S'bu Nkosi, Travis Ismaiel en Warrick Gelant wat ook beseer is, het die Bok-afrigter beperkte opsies op regtervleuel in sy groep wat in Australasië toer.

Kolbe (1 toets, 1.72 m en 76 kg) is sonder twyfel gemakliker as Kriel (33 toetse, 1.86 m en 96 kg) op vleuel. Maar vernaam 'n gebrek aan toetservaring kan teen hom tel. Kolbe het slegs verlede week sy toetsbuiging gemaak.

Hy behoort ten minste weer op die bank te sit.

Erasmus weet ook goed wat gebeur as jy die All Blacks met 'n onervare agterste driehoek in Nieu-Seeland pak.

Die Bokke se vleuels en heelagter was juis verlede jaar hul grootste onderpresteerders in die slagting van 57-0 in Albany. Dit was 'n uitslag wat Allister Coetzee se loopbaan as afrigter help kortknip het.

As die Bokke se voorste verdediger kan Kriel die taak kry om waarskynlik die All Blacks se giftigste aanvaller, Rieko Ioane, in toom te hou. Kriel het boonop al vyf keer voor die haka gestaan.

Kolbe het in Frankryk gewys sy verdediging het baie verbeter, maar hy bly eerder 'n gevaarliker aanvaller. Hy sal vanweë sy vlugvoetigheid 'n groter impak van die bank as Kriel maak.

Met sy getal toetse sal Kriel, Willie le Roux (47) en Aphiwe Dyanti (6) verreweg die mees ervare agterste driehoek wees wat die Bokke vanjaar onder Erasmus gekies het.

Dit lyk nou ook of Steven Kitshoff, en nie meer Beast Mtawarira nie, die land se voorkeur-loskopstut is.

• 'n Moontlike Bok-beginspan: Willie le Roux, Jesse Kriel, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff.

– Netwerk24