12 July 2018 | Sport

Pumas wys kloue by Cravenweek

Wim Pretorius - Die Pumas het gister in die Paarl heelwat aansien by die Cravenweek-toernooi vir o.18-rugbyspanne herwin toe hulle die Oostelike Provinsie met 45-29 ore aangesit het.

Dít nadat hulle Maandag deur die Westelike Provinsie met 72-10 uit die pad gevee is.

Vir die OP, wat Maandag met 46-25 deur die Goue Leeus geklop is, is die week vinnig besig om in 'n nagmerrie te ontaard.

Verlede jaar het die Oos-Kapenaars met seges oor die Blou Bulle en Luiperds gespog en slegs teen die SWD verloor.

Die Pumas het veral in die eerste helfte byna elke afdeling van die spel oorheers en is beloon met twee drieë elk deur die losskakel Coenraad Visser en haker Chyle van Zyl, asook een deur vaskopstut Estian Schroeder.

Ná rustyd het die Pumas hulle rustydvoorsprong van 33-10 verder vergroot toe Mfihla Phakathi, Teboho Mosia ook gaan druk het.

Die OP het wel beter vertoon in die tweede helfte, maar het nie genoeg skietgoed gehad nie en loop nou die gevaar om drie wedstryde op 'n streep te verloor.

Die Blou Bulle-uitnodigingspan het die sewende vyftigtal in tien wedstryde by dié toernooi aangeteken met 'n wegholsege oor die Limpopo Blou Bulle.

Die Bulle se sogenaamde B-span het die span van Limpopo met 55-5 afgeslag. Die haker, Enrique Coutriers, en die kaptein en flank, Junior Snyman, het elkeen 'n driekuns aan drieë behaal.

Snyman het met sy inklimspel gewys dat sy weglating uit die Bulle se A-span moontlik 'n fout deur die keurders was.

Net so was Coutriers se rol deurslaggewend in die uitnodigingspan se eerste sege van die toernooi. Dié span het in sy eerste wedstryd sy rieme styfgeloop teen die Griffons en met 51-17 verloor. Gister was hy egter 'n ander dierasie.

Gister se tellings by die o.18 Akademieweek:

Valke 25-22 Grens; Haaie-Platteland 29-14 Luiperds; Westelike Provinsie 67-14 KwaZulu-Natal; LSOB-Skolespan 26-22 Valke-Platteland; Namibië 18-15 Griekwas.

– Netwerk24