03 August 2018 | Mense

Pres. Hage praat uit

Die lewe op 77

"Dit het die geloof in my gevestig dat Namibiërs puik mense is." President Hage Geingob

In die ekslusiewe onderhoud neem Namibië se president, wat vandag sy verjaarsdag vier, Denver Kisting deur die hoogte- en laagtepunt van ‘n roemryke lewe van bykans agt dekades.
K: Dr. Geingob, watter hoogtepunt van die afgelope amper agt dekades toring uit en hoekom?
HG: Ek het my jong en volwasse lewe gewy aan die stryd om onafhank¬likheid. Ek het Namibië tydens 1962 verlaat toe ek 21 jaar oud was, en tyd en energie belê in die uiteindelike doelwit om vryheid vir die land te ¬bewerkstellig.
In die lig daarvan, Swapo se oorwinning in die (eerste demokratiese) verkiesings, Onafhanklikheidsdag op 21 Maart 1990, die stryk van die (ou) Suid-Afrikaanse vlag, die hysing van die Namibiese vlag en om ingehuldig te word as (eerste) eerste minister, sal altyd invloedryke oomblikke in my lewe bly.
Om as die derde president van die ¬Republiek van Namibië ingehuldig te word, span sonder twyfel die kroon op my lewe.
DK: Ons lewens vind gestalte deur die uitdagings wat ons die hoof bied. Wat was die mees beduidende uitdaging vir u en wat was die impak daarvan op u lewe?
HG: Ek het talle uitdagings in my lewe in die gesig gestaar.
Die besluit om alles agter te laat en in ballingskap te gaan, was nie maklik nie.
As ’n onderwyser was ek nie destyds die mees ontneemde mens nie.
My omstandighede het egter nie-wesenlik geraak in die lig van die groter ongeregtighede in daardie stadium. So, toe gaan ek.
In ballingskap was dit angswekkend om die Verenigde Nasies (VN) se Instituut vir Namibië op die been te bring.
Ons moes op ’n blanko bladsy begin en het uiteindelik ’n instelling gestig wat baie Namibiërs in ballingskap opgelei het en hulle vir die taak van regering voorberei het.
Sommige van hulle dien vandag in gesaghebbende posisies, insluitend die hoofregter (Peter Shivute), aanklaer-generaal (Martha Imalwa) en talle ander.
Maar ek moet vir jou sê die skryf van die Grondwet was die moeilikste.
Ons moes diegene konfronteer wat ons ons onafhanklikheid ontken het, ook deur wapens.

VERSOENING
As die voorsitter van die grondwetmakende vergadering moes ek mense byeen bring, met die klem op ’n aanslag van versoening, hulle vra om van hul verskille te vergeet en om saam te beweeg as een groep.
Daar was twyfel of ons saam sou kon beweeg en oomblikke van onsekerheid het binne én buite die Huis hoogty gevier.
Ek het belê in ’n oefening om vertroue te bou. Ek het met Jannie de Wet (’n leier uit die vorige bedeling) en andere vergader toe ons begin het. Hulle was van mening ons het nie van hulle óf van Afrikaans gehou nie. Ek het die ys gebreek deur Afrikaans met hulle te praat.
Daar was ’n vrees vir die onbekende in daardie stadium. So, toe vertel ek hulle ek wil hê my kinders moet drie maaltye per dag eet. En ek vra hulle wat hulle kommer was. Ons het mekaar gelyk gegee dat hulle dieselfde besorgheid oor hul kinders gehad het.
Toe sê ek ons moet hande vat en die proses vorentoe neem.
Ons het die proses toe binne drie maande afgehandel. Dit het ’n impak op my lewe en my lewensbeskouing gehad.
Dit het die geloof in my gevestig dat Namibiërs puik mense is. Ons kan van mekaar verskil, maar ons behoort almal aan die Namibiese Huis en moet nooit in die versoeking gelei word om ons tot geweld te wend om ons geskille te besleg nie.
Ons moet dit op die Namibiese manier doen – altyd met die versiendheid van en fokus op die volhoubaarheid van die Namibiese Huis.
DK: U beklee al die afgelope drie en ’n halwe jaar die warm stoel.
Wat beteken dit, professioneel en ¬persoonlik, om die staatshoof van hierdie pragtige land te wees?
Aan die ander kant, wat is u mins gunstelingaspek daarvan om die land te lei?
HG: Ek beskou myself as deel van waarna ek verwys as die derde golf van post-onafhanklikheid Afrikaleiers.
Die eerste golf is gekenmerk deur buitengewone persoonlikhede wat hul onderskeie lande na onafhanklikheid gelei het.
Van hulle het boonop eweneens ’n buitengewone rol vertolk om te baklei vir die onafhanklikwording van ander Afrikalande. Ek praat natuurlik hier van Kwame Nkrumah van Ghana, Julius Nyerere van Tanzanië, Ahmed Sékou Touré van Guinee, Modibo Keita van Mali en Gamal Abdel Nasser van Egipte, om enkeles te noem.

NUJOMA EN MANDELA
Presidente Sam Nujoma and Nelson Mandela is in die liga van leiers wat bedeeld is met charisma en dryf om onafhanklikheid en vryheid teweeg te bring.
Die tweede golf van leierskap in Afrika was nie vreeslik vleiend nie.
Ons het coups d’état gesien en eenpartyheerskappy, wat in sommige gevalle die vrugte van onafhanklikheid teengewerk het.
Soos ek gesê het, vir die derde golf (leiers) is die taak om welvaart en ’n beter lewe vir Namibiërs te verseker.
Om aan die mandaat van welvaart te voldoen, benodig ons prosesse, stelsels en instellings wat ordentlik toegerus is.
Dít is die enigste manier hoe die volhoubaarheid van Namibië gewaarborg kan word.
Op die vraag oor wat my mins gunstelingaspek is: Ek was altyd deel van die samestelling van leierskap.
(Om die) presidensiële kantoor (te betree,) was nie ’n groot skok vir my nie. Anders as wat geglo word, het ek nie gesterf om ’n president te word nie.
Dit was nie opsigself ’n doel nie.
Maar vir sommige lede van die bevolking om te voel dat andere nie gekwalifiseer is om te lei nie op grond van ras, stamgebondenheid of agtergrond, kan ’n pynlike gedagte wees.
Toe 87% van Namibiërs oorweldigend vir my stem, en ons deel van die Nasio¬nale Vergadering (NV) tot 80% styg, het dit my laat besef dat Namibiërs in eenheid glo.
Die kleingeestiges is in die minderheid. As die staatshoof is ek hier om almal te dien.
DK: Eritrea and Ethiopië het hulle onlangs opnuut tot vrede verbind.
(Ondanks die afgelope week se geweld), het Zimbabwe verlede maand belowe dat die verkiesings vreedsaam sal wees.
In Suid-Afrika het president Cyril ¬Ramaphosa sy hande vol terwyl sy voorganger, Jacob Zuma, in die beskuldigdebank staan.
Wat is u indrukke oor waar die vasteland haarself bevind?
HG: Afrika staan op.
Dit is nie langer die hopelose vasteland nie soos dit pessimisties geskets is aan die einde van die 1990’s.
Demokratiese verkiesings is nou die norm met perke op die termyne (van leiers).
Makroëkonomiese regering het merkwaardig verbeter. Dít is waarom ek van die Nuwe Afrika praat.
Alle Afrikalande het sonder uitsondering oor die afgelope dekade verbeter wat die menslike ontwikkelingsmaatstawwe betref.
DK: Wat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelinggemeenskap (SADC) en sy toekoms?
HG: SADC is een van die sekerste streke op die vasteland. As die nuwe voorsitter werk ons daaraan om die proses van streekintegrasie te verdiep.
Die toekoms van die streek lyk goed.
DK: Kom ons keer terug huiswaarts: Die tweede nasionale grond¬konferensie vind na verwagting tydens Oktober vanjaar plaas. Grond blý ’n brandpunt. Wat is die moontlike oplossings?
HG: Soos wyd gekommunikeer, sal dit tussen 1 en 5 Oktober 2018 plaasvind. Streekberaadslagings is op dreef om mense toe te laat om hulleself uit te druk. Ons sal die bevindings onder die loep neem en die weg vorentoe uitstippel wat in belang van alle Namibiërs sal wees, eenheid bewaar en ons kanse op ’n beter toekoms versterk. Ek herinner (mense) deurgaans dat grond geen wondermiddel is nie.
Die belangrike uitdaging is om armoede te takel en ¬werksgeleenthede te skep.
Verstedeliking is ’n werklikheid hier en ’n wêreldwye neiging wat voorstel dat minder en minder Namibiërs die grond deel.
So, dit is ’n duidelike aanduiding oor waarop ons moet fokus – verdiep die vervaardigingsgrondslag en skep werk in sektore met hoë groei en- werkskeppingspotensiaal.
DK: Verlede maand het ’n groep mans agter tralies beland weens beweerde hoogverraad. Is u bekommerd oor die situasie in die destydse Caprivi?
HG: Namibië word regeer ingevolge die oppergesag van die reg – ons basiese reg vereis dit van ons. Ons het ’n progressiewe Grondwet en Mishake Muyongo was een van ons grondwet¬skrywers. Hy het homself beskikbaar gestel vir ’n eenheidstaat en die territoriale integriteit van Namibië is nie ¬onderhandelbaar nie.
Namibiërs moenie mislei word nie. Hulle sal nie mislei word nie!
Vir diegene in die Dukwi(-vlugtelingkamp in Botswana) wat wil terugkeer, is my bevele dat niemand geïntimideer moet word nie. Namibiërs moet toegelaat word om na hul land terug te keer. Hulle moet herintegreer word om ’n normale lewe te lei en ’n bydrae te lewer tot die ontwikkeling van die land.
DK: Hiermee ’n paar ligter vrae. Wat is u gunstelingdis?
HG: Pap en Oshikandela
DK: Wat is u gunstelingdrankie?
HG: Rooibostee, maar toenemend koffie omdat ek gevra is om my suiker-inname te verminder.
DK: Wat lees u tans?
HG: Ek lees ’n paar boeke terselfdertyd. Vanweë my skedule soek ek hoofstukke uit wat met dringendheid die kwessie aanroer waarmee Namibië en Afrika stoei.
Kwessies rondom ongelykheid, bemagtiging, werkloosheid en grond is hoog op die regering se agenda. So, op my bedkassie het ek Thomas Piketty se Capital in the 21st Century en Ibrahim Mayaki se Africa’s Critical Choices.
DK: Wat is die boustene vir ’n suksesvolle huwelik?
HG: Aangesien dié my derde huwelik is, is ek nie by magte om hieroor te praat nie. (Hy lag.)
Maar net soos politiek en staatsbestuur, geld dieselfe etos – deursigtigheid en verantwoordbaarheid is gelyk aan vertroue.
DK:Watter herinnering koester u uit u kinderdae?
HG: Onder apartheid was dit vir die meerderheid hard. Ek het daarna uitgesien om plaas toe te gaan, sokker te speel en in die koor te sing.
Respek vir ouer mense was ’n teken van geloof in daardie dae.
DK: Hoe hanteer u konflik?
HG: Ek glo in onderhandeling en om mense om ’n tafel byeen te bring.
Gedurende die 1990’s het die werknemers van Tsumeb Corporation Limited (TCL) aan ’n verlammende staking deelgeneem. Ons het dit in belang van die land opgelos. Ek stel volhoubare oplossings voor om die staat te versterk en nie te verswak nie met elke uitdaging wat ons as regering in die gesig staar.

ROLMODEL
DK: Wie is u rolmodel(le)?
HG: Ek bewonder vir Fidel Castro vir sy volharding in die geval van teenstand, aandag aan detail, vermoë om te luister en insigte te deel wat gewig dra.
Sy vermoë om rigting te gee op ’n insluitende en ondersteunende wyse, is verstommend.
Ek het hom in 1977 in Havana, Kuba, ontmoet saam met president Nujoma, wat uitgebreid met hom gesels het oor die rigting wat ons bevrydingstryd moes neem.
Toe kameraad Nujoma klaar was, het kameraad Fidel, die indrukkende rewolusionêr en goeie luisteraar wat hy is, onvoorwaardelike ondersteuning aangebied vir die fase van ons stryd wat toe sou begin.
Hy het gesê dit is ons rewolusie, ons moet die rigting aandui en die mense van Kuba sal ons ondersteun.
DK: Hoe hanteer u teleurstelling?
HG: Ek stel teleurstelling onaktief en beweeg aan na die volgende uitdaging.
DK: Hoe hanteer u goeie nuus?
HG: Ek is nie baie goed daarmee om oorwinnings te vier nie, veral nie as hulle polities van aard is nie. Ek peil baie vinnig die taak ter sprake en die behoefte om teenstrydige kante te versoen.
DK: Wat maak u kwaad?
HG: Ek verdra veral nie leuens en luiheid nie. Ek is regtig allergies vir daardie twee.
DK: Wat is u belangrikste waardes?
HG: My hele lewe het gewentel om die stryd vir geregtigheid. Dit is waarom eerlikheid, regverdigheid en toewyding tot diens waardes is wat my lewe besiel.
DK: Wat is u mening oor die Amerikaanse president Donald Trump?
HG: Geen kommentaar nie.
DK: Wat is die een ding wat min mense weet van Hage Gottfried Geingob?
HG: Dit sal ek aan familie, kamerade en vriende oorlaat om te vertel.
DK: Hoe gaan u u verjaardag deurbring?
HG: Ek sal my verjaardag met die bejaardes op Swakopmund deurbring. As enigiemand geskenke wil gee, moet hulle dit aan die bejaardes gee.
DK: Wat wil u nog professioneel en persoonlik bereik?
HG: As president wil ek hê die vrede moet bewaar word, en ongelykhede en armoede uitgewis word.
Ek het ’n beduidende gedeelte van my lewe gewy aan diens vir die land. Wanneer ek aftree, sal ek fokus op skryf en om tyd saam met familie deur te bring.
DK: Hoe moet u grafskrif eendag lui?
HG: Iemand wat sy beste vir Namibië probeer het.